Die nuutste oorhandiging beteken dat 177 huise reeds sedert verlede jaar aan inwoners oorhandig is. Die uitvoerende burgemeester van Groter Oudtshoorn, raadslid Gordon April, die speaker van die raad John Stoffels, raadslid van wyk 6 Jeremy Goliath en ander lede van die uitvoerende burgemeesters-komitee het beurte geneem om pakkies met skoonmaakmiddels aan die 48 families te oorhandig.
Elkeen van die bevoorregte families het ook `n boom ontvang. Die uitdeel van bome vorm deel van die munisipale raad se poging om `n groener Oudtshoorn mee te bring. Hierdie jaar is reeds sowat 400 bome in die Groter Oudtshoorn omgewing geplant.
Een van die bevoorregtes, Jafta de Jager wat volgende jaar 100 jaar oud word, het sy geluk uitgespreek. Hy was `n plaaswerker vir die grootste gedeelte van sy lewe en het op Oudemuragie gewoon voordat hy na `n plakkerskamp moes verhuis.
Selfs meer behuisingsprojekte word in die vooruitsig gestel. Die konstruksie van 161 eenhede in De Rust is reeds goedgekeur. Befondsing is reeds beskikbaar gestel en die kontrakteur is reeds besig met voorbereidings.
Die Wes-Kaapse provinsiale regering het ook die munisipaliteit se aansoek om befondsing goedgekeur vir projekte in Rose-valley. R5 miljoen is bewillig en die eerste fase van die projek behels die installasie van rioolstelses.
23 wooneenhede word ook vir Kairos beplan.

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester Gordon April en die speaker John Stoffels was onder die raadslede en amptenare wat die verrigtinge bygewoon het.