OUDTSHOORN NUUS - 'n Motorwerktuigkundige van Mosselbaai wat aan verkragting, statutêre verkragting, seksuele aanranding en seksuele uitbuiting van twee minderjarige meisies skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoornstreekhof tot altesaam 39 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die meisies is onderskeidelik 13 en 14 jaar oud.
Die 52-jarige Donald Smith, wat 47 jaar oud was toe hy die dade met die kinders gepleeg het, het met 'n breë glimlag die hof binnegekom en vir familielede en vriende gewaai wat die verrigtinge bygewoon het.
Nie een van die kinders se familie was in die hof nie.
Smith, wat volgehou het dat hy onskuldig is, was volgens die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, in 'n vertrouensposisie omdat die kinders deur hul ouers in sy sorg gelaat is. Die meeste van die dade het in sy motor plaasgevind.
Weyers het die hof versoek om lewenslange gevangenisstraf op te lê soos deur die wet voorgeskryf.
Volgens haar is Smith aan ernstige misdade skuldig bevind, maar blyk dit volgens 'n proefbeampteverslag asof die kinders die skuldiges is.
"Die beskuldigde was nie eerlik met die hof nie en het nie die hof in sy vertroue geneem nie. Hy het uit en uit leuens vertel," het Weyers gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnis-oplegging gesê Smith het die dade met twee jong, onskuldige en weerlose kinders gepleeg en geen berou getoon nie.
Hy het beklemtoon dat howe nie ligtelik kan afsien van voorgeskrewe vonnisse nie.
Omdat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan het, het hy afgewyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank vir die verkragting van minderjariges.
Die kinders het volgens die landdros nie permanente beserings opgedoen nie en die saak is reeds sedert 2013 aan die gang.
"Verkragting van kinders is egter 'n walglike, afskuwelike en vernederende misdaad. Wat verder verswarend is, is die feit dat die kinders onder 16 jaar was en daarom is die enigste gepaste vonnis direkte gevangenisstraf," het die landdros gesê.
Smith is onderskeidelik 15 en tien jaar tronkstraf opgelê op twee aanklagte van verkragting en nog 14 jaar op twee aanklagte van seksuele aanranding, twee van seksuele uitbui-ting en een van statutêre verkragting.
Sewe jaar van laasgenoemde vyf vonnisse kan samelopend met van die vonnisse vir verkragting uitgedien word wat effektiewe tronkstraf van 32 jaar beteken.
Die hof het ook gelas dat Smith se naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Kapt. Geoffrey Gordon van die Mosselbaai FCS was die ondersoekbeampte in die saak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'