OUDTSHOORN NUUS - Twee plaaslike dames het onlangs 'n boek uitgebring wat volgens die skrywer tot groot voordeel vir die jonger geslag kan wees.
Charmaine Beneke (39), en die jong Janien Müller (16) se boek, Milka en Sebastiaan, poog om belangrike kwessies by kinders aan te spreek.
Charmaine het die boek geskryf terwyl Janien verantwoordelik was vir die illustrasies.
Charmaine, die ma van twee seuns, vertel dat haar boek gefokus is op kinders.
"Die idee vir die boek is baie moeilik om te beskryf. Ek is baie lief vir die Here, en die idee vir die boek is in my gees 'ge-drop'. Ek skryf al jare lank vir my kleinste seuntjie wat bietjie gesukkel het om te lees in sy eerste jaar van skool. So al hoe ek hom deur sy eerste jaar kon kry was om vir hom stories te vertel. Hierdie stories het verander na avontuurstories, en uiteindelik het Milka en Sebastiaan net in my skoot geval. My twee seuntjies inspireer my baie," het sy vertel.
Volgens Charmaine is dit haar eerste boek wat gepubliseer word, al het sy baie ander in haar argiewe.
Die boek handel grootliks oor 'n seuntjie, Sebastiaan, wat tuisonderrig ontvang en baie skaam en teruggetrokke is. "Hy is baie onseker oor homself en het nie maatjies nie. So dan kom hierdie klein muisie in sy lewe en verander dit heeltemal."
Janien, 'n leerder aan Langenhoven Gimnasium, het volgens Charmaine betrokke geraak omdat sy Janien reeds sedert haar geboorte ken. "Janien se ma het gereeld van haar kunswerke op Facebook geplaas, en weereens het ek in my gees ervaar dat die Here vir my sê om vir Janien te gebruik omdat sy presies sal weet en sien wat ek skryf en dit in die karakters kan uitbeeld."
Volgens Charmaine kon Janien presies die beeld wat sy self in haar kop oor Sebastiaan gehad het, uitbeeld.
Janien vertel dat sy al sedert laerskool teken en dat sy juis op hoërskool ernstig begin teken het. Die gr. 10-leerder is baie opgewonde oor die feit dat haar illustrasies in 'n gedrukte boek gaan verskyn. "Ek kan self sien hoe my kuns in die proses van die teken van Milka en Sebastiaan verbeter het. Dit het seker drie tot vier maande geneem om alles te teken. My oorspronklike tekeninge was in koukie en waterverfpotlode," het sy vertel.
Volgens Janien het sy die storie gelees en van daar die tekeninge gedoen. Haar liefde vir kuns kom van animasiefilms wat sy gekyk het, en haar styl kom vandaar. Sy wil graag eendag grafiese ontwerp, animasie en argitektuur studeer. Janien wil hê kinders moet uit hierdie boek leer om hul drome te volg.
Die boekie self, volgens Charmaine, is gemik op kinders en hul ouers. "Kinders weet nie wat hul identiteit is nie, veral in vandag se lewe. Kinders weet nie wie hulle is nie. In my hart wil ek hê dat kinders met hierdie boek hul identiteit in Christus sal vind, en ook sal besef hulle is spesiaal. Die hele grondslag van die boek is, onthou altyd wie jy is, en onthou jy is spesiaal. Dit is die boodskap. Dis nie nodig om bang te wees nie; jy is goed genoeg nes jy is."
Charmaine Beneke (regs) en Janien Müller, onderskeidelik die skrywer en illustreerder van Milka en Sebastiaan.
Charmaine Beneke (regs) en Janien Müller, onderskeidelik die skrywer en illustreerder van Milka en Sebastiaan. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’