PRINS ALBERT NUUS - Prins Alberters soek kliphard na die individu, winkel of organisasie wat einde verlede week 'n enorme hoeveelheid taamlik vars witbrood buite die dorp, op die Bushman's Valley-piekniekterrein naby die ingang van die Swartbergpas, weggegooi het.
Die hoop netjies gesnyde brood is deur inwoner Jan Marais, terreinbestuurder van die oord, gevind en verwyder om te keer dat dit bobbejane lok. Sy vrou, Lydia, het foto's van die hoop brood op Facebook geplaas.
"Wat ek daar gesien het, is ontstellend," sê 'n onthutste Marais. "As ek moet skat is dit seker meer as honderd netjies gesnyde, redelik vars brode wat so weggegooi is. Dit sou 'n klein Nissan-bakkie se bak volmaak; dit gee jou 'n idee van wat ek gesien het. Dit moes Vrydagaand gebeur het, want ek was deur die dag daar en weer Saterdagoggend vroeg. Dis dus in die nag daar weggegooi. Ons is juis besig om die parkie, soos ons dit noem, daar reg te maak vir die publiek om te geniet, met braaigeriewe. Binnekort gaan die terrein in 'n volledige wildpark, met sebras en kameelperde, ontwikkel word. Ek kan nie dink dat 'n winkel so iets sou doen nie. Die vermorser sal seker nooit gevind word nie. Die persoon is nou morsdood. Ek het die brood toe maar aan 'n varkboer gegee."
Intussen gons dit op sosiale media oor die oortreder en vingers word in drie rigtings gewys: Dalk was dit 'n onwelkome of oortollige Mandeladag-skenking aan 'n organisasie, of miskien 'n groot kruidenierswinkel in die dorp wat van 'n oormaat ou brood ontslae wou raak.
In die dorp is daar net twee winkels wat soveel brood kan produseer, bespiegel inwoners – dalk was hul voorraad buitensporig, en die piekniekterrein (gerieflik uit die oog van die gemeenskap) was toe die aangewese plek om honger bobbejane te voer, eerder as om aan verhongerde mense iets te ete te bied.
Marais hou vol dat geen winkel op 'n dorpie soos Prins Albert soveel brood tegelyk sou aanhou waarmee daar dan weggedoen moet word nie. "Dit bly vir my 'n raaisel."
"Hoekom dit nie verniet uitdeel vir behoeftes (behoeftiges) nog terwyl dit vars is nie?" vra Susara Bothma op die gewilde Facebook-blad, Prins Albert Nuus en Gebeure.
Absoluut nié die handewerk van Spar nie, sê Fourie Munro, bestuurder; hy en sy personeel sal nooit daarvan droom om so iets te doen en terselfdertyd die natuur te besoedel nie. "Ons het gereeld amper te min brood beskikbaar, en kos is die laaste ding wat ons sal weggooi. Dis beslis nie Spar se styl nie."
USave kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.
Gerugte loop egter dat die brood na bewering op die piekniekterrein gestort is deur die eienaar van 'n huiswinkel in Noordeinde. Die winkel het, volgens 'n betroubare bron, pas sy deur gesluit en die eienaar het na bewering sy broodvoorraad buite die dorp gaan weggooi. Dié gerugte kon ook nie bevestig word nie.
Prins Albert bly een van die armste dorpe in die Sentraal-Karoo, met 'n armoedevlak van bykans 50% van sy inwoners, volgens die Wes-Kaapse Distriksontwikkelingsmodel 2020 (Sentraal-Karoo) van die Departement Samewerkende Regering. Dis ook 'n dorp met 'n taamlik sterk bedelkultuur weens armoede.
Foto's: Jan Marais
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’