OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Oudtshoorn wat ‘n 81-jarige oudonderwyser in die begraafplaas aangerand en van haar motor beroof het is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof op sy eie erkennings skuldig bevind.
Hy het ook ‘n minibustaxi sonder die toestemming van die eienaar geneem en ‘n ander vrou probeer ontvoer en beroof.
“Dit is uit die beskuldigde se pleitverduideliking duidelik dat hy skuldig is soos aangekla en word skuldig bevind,” het streeklanddros Neels Nortjé gesê.
Die 19-jarige Geraldo Philander het in ‘n pleitverduideliking wat deur sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, aan die hof voorgelees is, erken dat hy op 25 Maart vanjaar die 81-jarige oudonderwyser, Jean Arries, in die begraafplaas van agter om die nek gegryp het terwyl sy besig was om haar man se graf skoon te maak. Sy het geval en hy het met haar Toyota Tazz weggery. Die motor is kort daarna deur die polisie teruggevind.
Hy het ook erken dat hy op 10 Mei vanjaar die Quantam-minibustaxi van Markus Saptouw in Panoramastraat, Rose Valley sonder toestemming geneem en daarmee na George gery het. Hy is na die taxistaanplek waar ‘n vrou, Sandra Tarentaal, in die taxi geklim het omdat sy dit geken het.
Hy het daarna met haar in George rondgery en later in die rigting van Heroldsbaai gery. Hy het op ‘n grondpad stilgehou, haar met ‘n mes gedreig en van haar selfoon en R800 kontant beroof. Tarentaal het volgens die staatsaanklaer, Corné Pretorius, die mes by Philander gegryp en weggehardloop.
Philander is skuldig bevind aan roof, die gebruiksaanwending van ‘n voertuig sonder toestemming van die eienaar asook roof met verswarende omstandighede en die saak is deur streeklanddros Neels Nortjé vir ‘n korrektiewe verslag en slotargumente tot 12 Desember uitgestel.
Volgens die staatsaanklaer het Philander nie vorige veroordelings op sy rekord nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'