OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van GG-Kamp in Oudtshoorn, wat van huisbraak en roof met verswarende omstandighede aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir twee dae se verdere verhoor tot 4 September uitgestel.
Lusanda le Grange word daarvan aangekla dat hy op 30 Julie 2022 by die huis van Rajuba Mmaganga ingebreek en hom van R300 kontant en 'n Nokia-selfoon beroof het.
Lusanda het hom ook glo met 'n mes gesteek en met 'n knopkierie geslaan.
'n Klagte van verbreking van 'n beskermingsbevel teen Le Grange is deur die staat teruggetrek. Volgens Mmaganga het hy reeds geslaap toe Le Grange en nog mans by sy woning ingekom en geld van hom geëis het.
Volgens die klaer het Le Grange na hom gesteek, maar nie getref nie. Nadat Le Grange sy sakke deursoek en die geld en selfoon gevat het, het hulle weggehardloop.
Volgens die klaer maak hy nie 'n fout met Le Grange se identiteit nie omdat hulle mekaar goed ken.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’