Update
TUINROETE NUUS - Vonnisoplegging van ‘n man (44) van Mosselbaai, wat in die Oudtshoorn-streekhof, aan moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is Maandag na die argument van die staat en die verdediging tot vandag (20 Julie) uitgestel.
Morné Meyer is daaraan skuldig bevind dat hy op 1 Junie 2019 vir Shannon (Ghosey) Kannemeyer vermoor het deur hom met ‘n mes in die bors te steek en vir Cheslin Kiewiets ernstig aangerand het deur hom in sy linkerwang en kop te steek.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Meyer se getuienis dat hy homself verdedig het verwerp omdat dit hoogs onwaarskynlik is.
Kiewiets het getuig dat hy saam met die oorledene na Jason Kriel se huis was vir ‘n braai waar hulle ook die beskuldigde gekry het.
Kannemeyer het ‘n bottel Rum, ys en ‘n 2 liter-Coke saamgeneem.
Daar was later ‘n woordewisseling tussen Meyer en die oorledene oor iets wat glo die vorige week tussen hulle gebeur het. Meyer het die oorledene met die vuis in die gesig gestamp en hy het geval. Kannemeyer was bewusteloos en toe hy bykom is hulle daar weg.
Hulle het later saam met Samantha du Preez, die oorledene se meisie, terug om die Rum, ys en Coke te gaan haal. Hy het ontken dat die oorledene ‘n mes by hom gehad het.
Volgens hom het hy en die beskuldigde met mekaar baklei en mekaar gesteek. Hy het op ‘n stadium op die grond gelê en gesien die beskuldigde gaan na die oorledene.
‘n Oomblik later het hy gesien dat die oorledene sy bors vashou, maar het nie gesien dat die beskuldigde hom gesteek het nie.
Meyer het ontken dat hy ’n mes of ’n klein panga by hom gehad het en die oorledene en Kiewiets gesteek het.
Die hof het egter bevind dat die vyf staatsgetuies betroubare getuies was en geen rede bestaan om dit nie te aanvaar nie. Hulle het selfs onder kruisverhoor mekaar nie weerspreek nie.
Volgens die landdros het die beskuldigde homself egter weerspreek en leuens in die hof vertel terwyl ‘n verdedigingsgetuie die weergawes van die staatsgetuies gestaaf het.
“Die beskuldigde wou hê die hof moet meen iemand anders het die oorledene gesteek. Die oorledene het sy lewe verloor as gevolg van die steekwond wat beskuldigde hom in sy bors toegedien het. Dit was onwettig en onregverdig en hy het nie uit selfverdediging opgetree nie.
“Die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys en die beskuldigde word skuldig bevind aan moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer” het die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, vra die hof om nie af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar nie omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede daarvoor bestaan nie. Die staat sal volgens Pretorius nie beswaar maak indien die vonnisse vir die twee aanklagte samelopend uitgedien kan word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’