OUDTSHOORN NUUS - Die 44-jarige Morné Meyer van Mosselbaai is in die Oudtshoorn-streekhof 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy aan moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind is.
Meyer is deur streeklanddros Sylvia Mandla daaraan skuldig bevind dat hy op 1 Junie 2019 vir Shannon (Ghosey) Kannemeyer, ‘n pa van vier kinders, vermoor het deur hom met ‘n mes in die bors te steek en ook vir Cheslin Kiewiets met ‘n mes in sy wang en kop gesteek het.
Meyer se verweer, dat hy die betrokke Saterdag uit noodweer opgetree het, is deur die hof verwerp.
Kiewiets het getuig dat hy saam met die oorledene na Jason Kriel se huis was vir ‘n braai waar hulle toe die beskuldigde ook gekry het.
Kannemeyer het ‘n bottel Rum, ys en ‘n 2 liter Coke saamgeneem.
Daar was later ‘n woordewisseling tussen Meyer en die oorledene oor iets wat glo die vorige week tussen hulle gebeur het. Meyer het die oorledene met die vuis in die gesig gestamp en hy het geval. Kannemeyer was bewusteloos en toe hy bykom is hulle daar weg.
Hulle is later saam met Samantha du Preez, die oorledene se meisie, terug om die Rum, ys en Coke te gaan haal. Hy het ontken dat die oorledene ‘n mes by hom gehad het.
Volgens hom het hy en die beskuldigde met mekaar baklei en mekaar gesteek. Hy het op ‘n stadium op die grond gelê en gesien die beskuldigde gaan na die oorledene.
‘n Oomblik later het hy gesien die oorledene hou sy bors vas, maar het nie gesien dat die beskuldigde hom gesteek het nie.
Meyer het ontken dat hy ’n mes of ’n klein panga by hom gehad het en die oorledene en Kiewiets gesteek het.
Die hof het egter bevind dat die vyf staatsgetuies betroubare getuies was en geen rede bestaan om dit nie te aanvaar nie. Hulle het selfs onder kruisverhoor mekaar nie weerspreek nie.
Volgens die landdros het die beskuldigde homself egter weerspreek en leuens in die hof vertel terwyl ‘n verdedigingsgetuie die weergawes van die staatsgetuies gestaaf het.
“Die beskuldigde wou hê die hof moet glo iemand anders het die oorledene gesteek,” het die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof versoek om nie af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar vir eerste oortreders nie omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede daarvoor bestaan nie. Meyer toon ook geen berou nie en het tot die einde onskuldig gepleit.
Meyer se regsverteenwoordiger, Bradley Michaels, het die hof gevra om in ag te neem dat hy reeds langer as vier jaar in aanhouding is en ‘n eerste oortreder is.
“Die gemeenskap verwag swaar vonnisse vir moord en al wat in die beskuldigde se guns tel is die lang tydperk wat hy in aanhouding was,” het die landdros verder gesê.
Die hof het bevind dat 15 jaar vir moord die enigste gepaste vonnis is en het gelas dat die vyf jaar vir aanranding daarmee saam uitgedien kan word.
Meyer is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en die hof het ook gelas dat die familie van die oorledene geken word wanneer hy eendag om parool kwalifiseer. Familielede van die oorledene, wat vir elke hofverskyning van Meyer vanaf Mosselbaai gereis het, het na die vonnisoplegging hul dankbaarheid teenoor die staatsaanklaer uitgespreek, maar die mening uitgespreek dat hy ten minste 20 jaar direkte gevangenisstraf opgelê moes word.
Twee familielede na die afhandeling van die saak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’