OUDTSHOORN NUUS - 'n 52-jarige man van Oudtshoorn, met 19 vorige veroordelings, is in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê vir die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.
Phillip Jaftha het skuldig gepleit en in 'n pleitverduideliking erken dat hy in besit was van die 9mm semi-outomatiese pistool en ammunisie, maar aanvanklik aangevoer dat dit nie wederregtelik was nie omdat hy dit opgetel het.
Volgens hom was hy onderweg na die polisie om dit te gaan oorhandig en het ook aangevoer dat hy 'n polisie-informant is.
Hy het egter later in die hof getuig dat hy die pistool en ammunisie vir R200 van 'n onbekende persoon gekoop het. Hy het nie die vuurwapen gebruik nie, maar was roekeloos deur met sy vinger op die sneller te loop.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan die beskuldigde gestel dat hy sal moet besluit of hy 'n krimineel wil wees of iemand wat die polisie wil help. Hy is aan ernstige misdrywe skuldig bevind.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Jaftha se getuienis verwerp omdat hy homself weerspreek het oor hoe hy die wapen bekom het.
Volgens die landdros het die polisie geen rede gehad om leuens in die hof te vertel nie. Dit is ook nie bekend of die vuurwapen miskien vir roof of moord gebruik is nie.
"Feit is dat die beskuldigde nie geregtig is om 'n vuurwapen te besit nie," het die landdros gesê.
Sy het vir vonnis in ag geneem dat Jaftha vir die laaste 10 jaar 'n skoon pad geloop het, nie jonk is nie, en die pa van agt kinders is.
Hy is ses jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van 'n vuurwapen en twee jaar vir die besit van ammunisie sonder 'n lisensie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'