OUDTSHOORN NUUS - Die onafhanklike polisie ondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek 'n klag van moord nadat 'n 24-jarige man Vrydagnag, 22 Desember deur 'n lid van die polisie geskiet is.
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suidkaapse polisiewoordvoerder, het die polisie reageer op 'n klag van ernstige aanranding by Marnewickstraat 18 Bongolethu.
Volgens hom dui die aanvanklike ondersoek daarop dat 'n lid van die honde-eenheid in Oudtshoorn op die klag reageer het.
In 'n konfrontasie met die verdagte het die verdagte die polisiebeampte met 'n mes aangeval.
Nadat die verdagte nie op waarskuwings reageer het nie was die polisiebeampte genoodsaak om sy vuurwapen uit te haal en af te vuur.
Die 24-jarige Kaywin Pieterse is in die bors getref en is op die toneel dood.
Volgens die oorledene se suster, Jodene, en haar tannie, Melissa, was Kaywin Vrydag laatmiddag in 'n argument met sy stiefoupa betrokke.
Die oupa is in die argument beseer en hy wou die saak by die Bongolethu polisie gaan aanmeld,
Dit blyk volgens die twee, dat die polisie 'n ambulans ontbied het om die bejaarde hospitaal toe te neem sonder dat hy 'n klag gelê het.
Dit is onduidelik wat intussen by die huis plaasgevind het, maar in 'n gesprek met hulle het Jodene gister gesê sy het omstreeks middernag 'n patrolievoertuig in die straat voorgekeer.
"Ek het vir die polisie gevra om net te gaan kyk of Kaywin rustig is," het sy gesê.
Volgens haar weergawe is twee polisiebeamptes alleen met flitse in die donker huis in.
Die huis by Marnewickstraat 18 waar die skietvoorval plaasgevind het.
Sowat vyf minute later het hulle 'n skoot gehoor.
Nog polisievoertuie het later opgedaag asook 'n lid van OPOD wat vanaf George gekom het.
Kaywin se ma, Denise, was tydens die voorval uit die Kaap onderweg huis toe.
Sy het 'n hele ruk na die skietvoorval in die straat aangekom waar sy deur die polisie in kennis gestel is dat haar seun dood is.
"Die polisie wou niemand in die huis toelaat nie, maar hulle het my laat ingaan en ek het my seun se liggaam hier in die sitkamer sien lê."
Volgens Pojie word daar benewens die moordklag ook 'n saak van poging tot moord teen die oorledene ondersoek.
Pojie het benadruk dat die ondersoek geheel en al deur OPOD hanteer word.
Teen vanmiddag het die familie aangedui dat hulle nog nie genader is om verklarings af te lê nie.
ARTIKEL & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'