OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Kaapstad, wat volgens hom die sleutels van ‘n Honda Ballade ter waarde van R100 000 opgetel en met die motor weggery het omdat hy gedink het dit is ‘n geskenk van God, is in die Beaufort-Wes-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Boyce Sipondo het onskuldig gepleit en getuig dat hy nie bedoel het om die motor te steel nie omdat hy nie geweet het aan wie dit behoort nie.
Hy was met die motor onderweg na die Oos-Kaap om dit vir sy suster te gaan wys toe hy tussen Laingsburg en Beaufort-Wes deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem is.
Die bejaarde eienaar van die motor, Martha van Rensburg, het getuig dat sy die motor se sleutels op 5 Mei 2021, per abuis op ‘n tafeltjie voor die Brackenfell-polisiestasie waar sy ‘n register moes teken vergeet het. Toe sy terugkom was haar motor weg.
Sy was lid van die Suid-Afrikaanse Polisie Unie (SAPU) wat gedurende die Covid-inperking moes kyk of polisiestasies voldoen aan die Covid-19-regulasies. Sy moes twee weke later spesiaal na Beaufort-Wes reis om die motor te identifiseer as haar eiendom.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Sipondo se weergawe te verwerp en direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees vir ‘n ernstige misdaad soos voertuigdiefstal.
Sipondo is in die Oudtshoorn-streekhof deur streeklanddros, Ntsoki Moni, aan voertuigdiefstal skuldig bevind en in die Beaufort-Wes-streekhof gevonnis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'