OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Calitzdorp wat aan instemmende seks (statutêere verkragting) met ‘n minderjarige skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar in huisarres geplaas.
Die 26 jarige Isaac Lukas het in sy pleitverduideliking erken dat hy in November 2020 verskeie kere met toestemming geslagsgemeenskap met die minderjarige gehad het.
Volgens hom was hy en die 15–jarige klaer in ‘n verhouding en was hy bewus van haar ouderdom. Hulle het mekaar gereeld by ‘n plek bekend as “Kry Mekaar” ontmoet en daar geslagsgemeenskap gehad.
Sy pleitverduideliking is deur die staat aanvaar en streeklanddros Daniel Boks het hom tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgekort is.
Die landdros het beklemtoon dat dit teen die wet is vir enige persoon om geslagsgemeenskap met ‘n minderjarige te hê, al is dit ook met toestemming.
Lukas is ook tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat 24 uur per dag in huisarres bepaal behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol.
Die hof het gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word terwyl hy ook onbevoeg verklaar is om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'