OUDTSHOORN NUUS - 'n Graad 11 leerder van Dysselsdorp Sekondêre Skool, Randall Arendse, is in die George-hospitaal opgeneem nadat hy glo kop- en neusbeserings opgedoen tydens 'n bakleiery wat gister tussen leerders by die skool uitgebreek het.
Volgens 'n sekuriteitsbeampte by die skool, het die bakleiery tussen drie seunsgroepe omstreeks 07:50 uitgebreek; enkele minute voordat die leerders in hul onderskeie klasse moes gaan.
Die bakleiery het blykbaar ontstaan nadat een van die seuns se suster glo die vorige dag deur 'n lid van 'n ander groep geklap is. Die leerder se broer het toe die betrokke lede van die groep gekonfronteer en gedurende die skermutseling is Arendse ernstig beseer.
Die skool se leerders is tans besig met hul eksamen.
Bekommerde ouers was vandag by die skool om hul kinders te haal omdat hulle gevrees het dat geweld weer vandag sou uitbreek. Daar was ook 'n sterk polisieteenwoordigheid by die skool.
Die skool het intussen verdaag en die leerders en ouers is vreedsaam na hul onderskeie wonings toe.
Randall Arendse
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'