LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het in die eerste week van Augustus 21 mense vir onder meer dwelmverwante sake in hegtenis geneem.
Ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie sê hulle het, in samewerking met die Attakwa-honde-eenheid, verskeie operasies by dwelmhuise en sjebiens gehad.
"Ons het in Zoar en Ladismith mense in verband met die besit van en smokkel in onwettige dwelms en drank gearresteer. Daar is ook 'n 32-jarige man in Ladismith in hegtenis geneem na hy die polisie met geweld gedreig het.
Die polisie het op verskeie soorte drank sowel as tikstrooitjies, dagga en Mandrax-tablette beslag gelê," het hy gesê.
Volgens hom is die persone wat gearresteer is tussen die ouderdomme van 21 en 54 jaar.
"Dwelms is 'n groot probleem binne die gemeenskap en beïnvloed die jeug negatief. Die drie misdade wat tans 'n groot probleem vir die polisie is, is inbrake, aanrandings en moord. Die gebruik van dwelms en alkohol dra beslis by tot die pleging van die misdade."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'