OUDTSHOORN NUUS - Al ryg sy die toekennings by distriks- en nasionale kunskompetisies in bly die jong Janien Müller (16), 'n plaaskind vanaf Dieprivier uit die Kammanassie, steeds beskeie en plat op die aarde, maar het sy steeds die oog op groot, kleurvolle drome vir die toekoms.
Janien is tans 'n gr. 10-leerder by Langenhoven Gimnasium en het onlangs in die nuus beland as die illustreerder van 'n kinderboek, Milka en Sebastiaan gepen deur die Oudtshoorniet Charmaine Beneke.
Maar haar talent strek nie net tot hierdie tipe illustrasies nie. Janien het in September, met die eindronde van die nasionale Con Spirito-eisteddfod, met nie minder as drie toekennings as itemwenner weggestap. Sy is aangewys as itemwenner in die kuns gemengde medium-afdeling (99%), kuns kleurpotlood-afdeling (99%) én kuns olie en pastel-afdeling (95%). Boonop het sy die algehele tweede plek vir kuns in hierdie nasionale kompetisie gewen.
Heel nederig sê sy, en met 'n groot glimlag, dit voel okay om so vereer te word. "Ek het reeds ingeskryf tydens die KKNK, en die eindronde was in September. Ongelukkig kon ons nie die prysuitdeling bywoon nie. Dis eintlik onwerklik," het sy gesê. Sy voeg by dat dit nog so rukkie vat om in te sink.
Die inspirasie vir haar kunswerke wat sy ingeskryf het was gebaseer op temas van die verskeie afdelings.
Volgens hul webtuiste is Con Spirito 'n unieke Kultuur-vereniging, 'Kultuur met Geesdrif', wat in 2003 gestig is. "Ons is passievol oor kultuur en wil graag vir elke kind die geleentheid skep om sy/haar talente uit te leef. Ons is daar vir enige vorm van kultuur. Die Vereniging wil graag kultuur bevorder, geleent-hede skep en talent ontdek en ontwikkel."
Die vereniging se kultuur-kompetisies, van verskeie aard, word jaarliks aangebied wat geleentheid bied aan die wat nie altyd 'n kans kry in sy/ haar skool nie. Enige skool/organisasie mag deelneem aan Con Spirito.
Buiten hierdie nasionale toekennings het Janien ook aan die Garden Route-eisteddfod deelgeneem, en hierdie kompetisie se Routey Awards, ook in September. Tydens hierdie kompetisie is sy aangewys as die 'Top Senior Mixed Media' en ook 'Best Visual Artist' 2023.
"Hierdie kompetisie was eintlik meer 'n eksperiment, want ek het klomp nuwe mediums aangekoop, soos verskillende potlode en so aan. Ek het met kleurpotlode gewerk, waarmee ek nie altyd werk nie, so ek wou dit probeer."
Haar inspirasie en liefde vir kuns, vertel sy, is aangevuur deur 'n animasiereeks wat sy begin kyk het, al bieg sy dat sy nog altyd gehou het van teken. "Ek het met diere begin, maar dit nooit eintlik ernstig gevat nie. Die animasie was Voltron Legendary Defender, en ek het baie gehou van die styl. Toe het ek begin mense teken," het sy vertel.
Van daar af wou sy begin leer en het waterverf en fine line-kuns haar gunsteling kunsmediums geword. "Veral die mengsel van die twee!"
Janien voeg by, heel beskeie, dat sy nie vir hierdie kompetisies gaan soek nie. Dit kom oor haar pad en met genade en haar Godgegewe talent presteer sy.
Wat lê volgende vir die aspirerende kunstenaar? Janien vertel sy dink tans aan drie opsies; grafiese ontwerp, argitektuur en animasie. "My groot passie is eintlik grafiese ontwerp, waarvoor ek wil gaan swot, en ook animasie wat ek eintlik op my eie kan doen en waarin ek reeds aanlynklasse loop."
Janien teken boonop tekenprente vir haar skoolkoerant.
Sy sluit af deur te sê dat kuns haar inspireer en sy hoop om eendag iets te skep wat ander inspireer.
Die kunswerke wat Janien Müller ingeskryf het vir die nasionale Con Spirito-eisteddfod-kunskompetisie. Foto: Verskaf
Janien Müller se inskrywings vir die Garden Route-eisteddfod. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’