OUDTSHOORN NUUS - 'n Vonnis van korrektiewe toesig vir 'n man wat aan statutêre verkragting skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof omskep in direkte gevangenisstraf omdat hy nie die korrektiewe toesigvoorwaardes nagekom het nie.
Grant du Preez (21) is in Desember 2017 vyf jaar gevangenisstraf, in geheel opgeskort vir vyf jaar en twee jaar korrektiewe toesig gevonnis.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Du Preez het toe skuldig gepleit en in sy pleitverduideliking erken dat hy met toestemming gemeenskap gehad het met 'n 14-jarige meisie. Hulle was in 'n verhouding en hy het haar nie om haar ouderdom of in watter graad sy was uitgevra nie.
Hy het erken dat dit verkeerd was en gestraf kan word en sy pleit is deur die direkteur van openbare vervolging goedgekeur.
Du Preez het egter, volgens 'n korrektiewe beampte, nie by die voorwaardes gehou nie. Hy was nie tuis met 'n huisbesoek nie en het nie vir kantoorafsprake en gemeenskapsdiens opgedaag nie.
Die beampte het aanbeveel dat hy nie geskik is vir verdere plasing op korrektiewe toesig nie en dat die oorblywende tydperk van sy korrektiewe toesig vervang word met 'n vonnis van direkte gevangenisstraf.
Streeklanddros Daniel Boks het die beampte se aanbeveling aanvaar en Du Preez vir die oorblywende 639 dae van sy korrektiewe toesig tronk toe gestuur.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'