PRINS ALBERT - Die skryf van Juan en die bidsprinkaan was vir haar ’n reis – vandat sy jare gelede van die belewenis van haar broerskinders en hul besonderse troeteldier gehoor het tot die afgelope week, toe sy dié sonderlinge verhaal in boekvorm vasgehou het.
So het die skrywer, Thana de Clerk, Saterdag vertel toe haar eerste kinderboek in Prins Albert bekendgestel is. De Clerk het 'n doktorsgraad in bedryfsielkunde en woon met haar lewensmaat adv. Marius Scholz, deels in Stellenbosch, deels in Prins Albert.
Juan en die bidsprinkaan is ’n verhaal vir kinders (en hul ouers) oor omgee, liefde, begrip, hartseer en verlies, aanvaarding en hoop het sy gesê.
Wat die boek egter n?g kosbaarder maak, is dat dit geïllustreer is deur die bekende Suid-Afrikaans-Belgiese kunstenaar Jan Vermeiren.
Die bekendstelling is by die gastehuis-restaurant The Yellow House gehou en die digter, Daniel Hugo, het uit die boek voorgelees.
De Clerk het haar manuskrip in September vanjaar aan Turksvy Publikasies voorgelê, wat onmiddellik besluit het dié storie van ’n seuntjie en sy tweelingsussie wat ’n besonderse band met die natuur vorm, moet vóór Kersfees verskyn.
Sy het Saterdag vertel dat sy sowat vier jaar gelede te hore gekom het van die verhaal van haar broerskinders, Juan en Lienke de Clerk en hul liefde vir ’n bidsprinkaan genaamd Annelien. Sy het die storie op die Camino-wandelpad in Spanje in 'n notaboekie begin skryf en dit iewers ingepak. Sy het dit vier jaar later weer ontdek en besluit om die storie te voltooi.
Vermeiren het ingestem om dié verhaal te illustreer, maar hy was op pad na sy tuisland, België, vir vakansie in Oktober. Hy het egter met sy terugkeer in November 32 illustrasies voorgelê.
Scholtz het by die bekendstelling gesê die produksie van die boek binne minder as drie maande, van manuskrip tot pragboek, is die bewys van wat spanwerk binne ’n rekordtyd kan regkry: van redigering en taalversorging tot die besonderse waterverf-illustrasies, presisie-uitlegwerk en drukwerk.
Vermeiren is ’n Vlaming wat aan die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten in Mechelen en Antwerpen gestudeer het. Hy het hom ook in die grafiese kuns aan die Nationaal Hogere Instituut voor Beeldende Kunsten in Antwerpen bekwaam. Hy is getroud met Kristien en het hom in 1977 in Kaapstad gevestig en die afgelope 45 jaar ’n waardevolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunsomgewing gelewer.
Gaste verkeer gesellig tydens die bekendstelling. Van regs na links is, Jan Veremeiren, Elza Miles, Kristien Vermeiren en Daniel Hugo. Foto's: Marlene Malan
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'