Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Vyf visuele kunstenaars van Oudtshoorn se werke word in die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se eerste Virtuele Galery uitgestal. Die galery is oop vir besoeke tot en met 22 Julie.
In dié tyd word daar ook twee Virtuele Kunsgesprekke aangebied. Woensdag 15 Julie om 18:30 word 'n gesprek oor die aard van medewerking en wisselwerking aangebied en volgende Woensdag 22 Julie word die gesprek oor die skuif na aanlynuitstallings - Virtuele aanbiedings en kunservarings aangebied.
Vir meer inligting en hoe om te registreer, stuur ’n e-pos aan lizane@kunste.org.za.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê hulle is baie opgewonde oor hul eerste virtuele galery.
“Ons is trots op die eindproduk van ons heel eerste volskaalse Virtuele Galery en nog meer trots om soveel werke van kunstenaars uit eie bodem op dié platform vlerke te gee," sê Hugo Theart.
Earlyn Cloud, Zietske Saaiman en Colin Meyer, wat verlede jaar deel van Absa se mentorskapprogram was, bring in Kicking Up Dust ’n uitstalling byeen wat ’n emosionele en sensoriese reaksie is op die gevolge en die belewenisse van die droogte in die Klein-Karoo.
Fotogalery: KKNK se eerste Virtuele Galery
Dit is in wese reeds ’n droë landskap wat deursettingsvermoë en volharding van die landbougemeenskap verg, wat grootliks bydra tot ’n volhoubare ekonomie in die plaaslike omgewing. Met die lang droogte wat die gebied teister, maak die kunstenaars gebruik van verskeie tekentegnieke en materiaal uit die onmiddellike omgewing.
Cloud vang met ’n reeks sketse die impak van die droogte op die omgewing en die gemeenskap van Oudtshoorn vas. “My werk beklemtoon, met die tentoonstelling van die hande van plaaslike boere, hulle families en werknemers, die belangrike rol wat hande in ons daaglikse lewens speel. Deur die voorstelling van hande word ’n gesamentlike gevoel van hoop, samekoms, saam bid en verdraagsaamheid geskep.”
Saaiman se werke weerspieël die veranderings wat deur die droogte op Oudtshoorn teweeg gebring is, verder as net die fisiese veranderings aan die landskap.
Mense se verhoudings met hulle omgewing verander soos wat hulle gedwing word om aan te pas en hulle liggame op verskillende maniere sin uitmaak van die elemente daarin.
In Meyer se werke sien hy hoe die omgewing doodgaan. Dit verander van ’n ekosisteem vol lewe en oorvloed, na een van ontbinding en skaarsheid. Van swembaddens wat sluit en waterbeperkings, tot die laer watervlakke van die Raubenheimerdam – sterf Oudtshoorn stadig van die dors. Meyer se werke beeld uit hoe die droogte die oorlewing van alle lewende wesens beïnvloed.
'n Kunswerk van Lisl Barry.
Kicking Up Dust word moontlik gemaak deur die Absa-kunsgalery. Die doel van die galery is meer as net die behoud van Afrika se kunserfenis – hulle is ook toegewyd om die soeklig te fokus op werke van jong Afrikakunstenaars en aan hulle moontlikhede, lewe te gee.
#CreativeChange is ’n uitstalling wat deur die Make a Difference Leadership Foundation aangebied word. Owen Claassen, oftewel die Karoo se Michelangelo, se beeldhouwerk word hierin gesien.
“Alles wat ek maak, is iets wat ek sien. Dit begin by staal wat ek optel. My kuns bring ook verligting in die gemeenskap. Kinders uit die gemeenskap maak die beelde skoon en sorg dat die planke netjies geskuur word. So wys ek ook die kinders watter moontlikhede daar vir hulle in die kunste is” vertel Claassen.
Lisl Barry se uitstalling, Birds of a Feather, is geïnspireer deur meer as een geleentheid waar sy die vlug van plastieksakke hoog in die lug vir voëls aangesien het. Alhoewel hulle bekoorlik mooi in hul dans was, het die besef dat dit eintlik plastieksakke was, dit weer tot haar laat deurdring wat die uitwerking is wat ons mense op die omgewing het.
Barry en haar gesin het ’n passie vir die omgewing, natuurlike lewe en die mens se verhouding met die natuur. Hulle het vir 23 jaar op ’n afgeleë natuurreservaat in die Klein-Karoo (Gamkaberg) gewoon en in 2017 na Oudtshoorn verhuis. Hierdie leefstyl van verdiep wees in die natuur het ’n groot invloed op haar werk en die manier waarop sy die wêreld sien.
'n Skets in die Kicking up Dust-uistalling deur Earlyn Cloud.
Die unieke skoonheid van die Karoo en Karoo-landskappe word in Karoo Stories deur fotograwe Maryna Cotton en Sarel van Staden vasgevang, deur lig op kreatiewe maniere te gebruik. Hierdie uitstalling het gedien as die skilderdoek vir Coenie de Villiers en Deon Meyer se musiekteaterproduksie, Karoo Suite 2: Karoonag.
Al hierdie uitstallings en talle ander kan in die KKNK se Virtuele Galery gesien word, waar werke ook gekoop kan word. Besoek die galery by www.kknk.co.za/virtual-gallery.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'