Update
OUDTSHOORN NUUS - Die DA-parlementslid en kiesafdelingshoof vir Kannaland, Zelda Jongbloed is Saterdag 21 Julie, na 'n lang stryd teen kanker oorlede. Jongbloed, 'n oudjoernalis, is in 2014 as parlementslid verkies en is kort daarna as die kiesafdelingshoof van Kannaland aangestel.
Die DA het Dinsdag 'n verklaring uitgereik waarin die party hulle medelye met haar heengaan betoon.
Volgens 'n bron in die DA was Jongbloed se aandeel deurslaggewend in die proses om Icosa se beheer oor Kannaland te verbreek. Icosa het met drie raadslede teenoor die DA se twee en die ANC se twee, vir 'n aantal jare die septer in Kannaland geswaai.
Die bordjies is egter op 16 Augustus 2016 verhang toe die DA- en ANC-raadslede besluit het om nie-amptelik saam te werk en beheer van die streek oor te neem. Kannaland sluit Calitzdorp, Ladismith, Zoar en Van Wyksdorp in.
Volgens die verklaring van die DA was Jongbloed 'n "inspirasie en mentor vir baie mense en haar toewyding aan haar kiesers was prysenswaardig".
Haar erediens vind plaas op Saterdag 28 Julie om 11:00 in die NG Kerk Watsonialaan, Groot-Brakrivier. Die diens word deur 'n privaat verassing gevolg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'