KANNALAND NUUS - Kannalanders het Maandag 27 November saamgestaan in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld teen vroue en kinders.
'n Suksesvolle, vreedsame optog is goed deur verskeie instansies in die dorp ondersteun.
Die departement korrektiewe dienste, departement sosiale ontwikkeling, departement justisie, SAPD, Engedi Haven en Oasis nie-regeringsorganisasie het besluit om hul stem by die duisende instansies landwyd wat aan hierdie 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders deelneem, te voeg. Mans en vrouens het vroeg voor 'n plaaslike winkelgroep bymekaargekom, waar pastoor Karen Fourie, voorheen van die Evangelies Lutherse Kerk 'n sterk boodskap teen geweld teen vroue en kinders gebring het.
"Ons mag nooit toelaat dat die hartseer van een gesin die besprekingspunt aan ons etenstafel of tydens ons sosiale gesprekke word nie. Dra mekaar se laste, Jesus Christus het die kruis van ons skouers kom haal, laat ons dieselfde aan ons buurvrou en haar gesin doen."
Nicole Booysen van kindersorg het 'n memorandum aan Jessica Fuller oorhandig. Foto: Deon Meyer
Optoggangers het daarna na die plaaslike landdroshof beweeg, waar 'n memorandum aan die klerk van die hof, Warren Petersen, oorhandig is.
Hierin is gevra vir sterker vonnisse vir oortreders van die Wet op Gesinsgeweld en die beskerming van weerlose vroue en kinders. Die optoggangers het kleefband wat oor hul monde geplak was verwyder as 'n simbool dat hulle hul stilswye oor die geweld teen vroue en kinders verbreek het.
Die groep het na die munisipale kantore beweeg waar 'n kers vir mishandelde vroue en kinders aangesteek is en 'n memorandum oorhandig is. 'n Voertuigoptog waaraan onder andere die plaaslike brandweer en SAPD deelgeneem het, het hierna deur die strate van die dorp beweeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’