PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert se mense kan weer moed skep: Die jare lange droogte wat erge eise aan mens, dier, plantegroei en die ekonomie gestel het is iets van die verlede.
"Die droogte is gebreek," sê die plant-kundige en Karoo-veldkenner dr. Sue Milton-Dean van Prins Albert.
"En in die reëntyd van die afgelope weke tussen Mei en Junie was dit sowat dertig uit veertig dae bewolk, wat beteken dat die reën doeltreffend was en die grond sedert 25 Mei nat gebly het. Duisende sade van vygies, Karoobossies en ander plantegroei kan nou ontkiem. Selfs as net een persent van hierdie plante oorleef en groei, sal dit help om die 40% plante wat die afgelope sewe tot nege jaar tydens die droogte doodgegaan het, te vervang. Maar dit sal tyd neem – minstens vyf goeie jare is nodig vir hierdie plante om tot volwassenheid te groei."
Só lyk die reënval die afgelope ses maande in 2023, in vergelyking met 'n 130-jaar-gemiddelde (tussen hakies) oor dieselfde tydperk, verskaf deur Milton-Dean:
- Januarie: 6 mm (14,6 mm)
- Februarie: 22,5 mm (18,5 mm)
- Maart: 27,8 mm (25,1 mm)
- April: 9,5 mm (18,8)
- Mei: 43 mm (16,4)
- Junie: 35 mm (13,3 mm)
"Die plante wat die droogte oorleef het, bot nou en kan selfs binne die volgende ses weke begin blom," sê Milton-Dean.
"Daar is nou meer weiding beskikbaar, maar as dit nou swaar bewei word, sal die oorlewende Karoobossies nie daartoe in staat wees om saad te skiet nie en sal daar nie 'n genoegsame aanwas van die eetbare struike wees om die dooie plante te vervang nie.
"Die dooie, sowel as die afgetakelde bosse en hul blare, dra voedingstowwe om te help met die groei van die plante – en hul saailinge – wat oorleef het. Doeltreffende weidingsherstel is nie 'n kitsproses nie. Die droogte het die veld ernstig beskadig. Dit sal tyd neem om te herstel."
Boere in die omgewing is ook in hul noppies met die goeie reën wat veral in Mei en Junie geval het – iets wat ongekend was die afgelope jare. Op sommige plase het dit by die 20 tot 40 mm op 'n slag gereën, en selfs die Dorpsrivier, Swartrivier en Gamkarivier het weer geloop.
Joseph Steyn van die plaas Rietfontein het by navraag gesê vroeg in Junie het hy binne een week 38 mm gemeet.
"Toe dit aan die einde van 2021 so lekker gereën het, het ons gedink die droogte is gebreek. Maar nou ja, toe raak dit weer droog tot einde verlede jaar. Nou is die veld baie mooi, so laat ons hoop dit hou so aan. Ek het net weer besef hoe dikwels dit moet reën om die veld mooi te hou. Ek dink ook die grondvogvlak het verhoog, wat maak dat die plante weer in produksie kom. In Junie groei die veld gewoonlik stadig, maar van middel Julie af weer vinniger. Die grond raak nie nou weer so gou droog nie. Ek is ook bly dat die Swartberg baie lekker reën gekry het!"
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'