OUDTSHOORN NUUS - Verskeie inwoners is warm onder die kraag omdat hulle glo deur die munisipaliteit gedwing word om koopkragmeters te laat installeer ten spyte daarvan dat hulle rekeninge op datum is.
Volgens vyf mense wat die media gekontak het, word daar gedreig om die huishoudings se kragtoevoer af te sny indien die eienaars weier om koopkrag te laat installeer.
Een inwoner het gesê hulle krag was afgesny nadat hulle huishulp toegang aan tegnici geweier het. Sover vasgestel kan word is dit huishoudings waar meterlesers nie toegang tot die persele verkry nie, wat per epos deur die munisipaliteit in kennis gestel is dat hulle koopkragmeters moet kry.
Terwyl inwoners dit verstaan, is hulle groot vraag egter waarom inwoners wie se rekeninge heeltemal op datum is, gedwing word om koopkragmeters te kry. Volgens een inwoner het hulle dadelik op die epos gereageer en op eie koste ‘n koopkragmeter laat installeer.
Hulle het in ‘n volgende epos verneem dat die installasiekoste deur die munisipaliteit gedra sal word. “Toe ons vir hulle vra om die geld wat ons betaal het aan ons terug te betaal, het hulle gesê ons het te vroeg ‘n meter laat installeer en ons moes vir hulle kontrakteur gewag het,” het die persoon in ‘n brief gesê.
Twee navrae is die week reeds aan die munisipaliteit gestuur om die korrekte inligting en redes agter die besluit te bekom, maar teen vanoggend was daar steeds geen terugvoering nie. Volgens een inwoner het die burgemeester hulle glo meegedeel dat die kwessie op ‘n raadsvergadering goedgekeur is.
Teen vanoggend kon die Oudtshoorn Courant nog nie bevestig of die raad wel goedkeuring vir die proses gegee het nie.
Een van die inwoners wat glo gedreig word dat haar krag afgesny sal word, het haar tot die polisie gewend om vas te stel of sy ‘n klag van intimidasie teen spesifieke amptenare kan lê.
Volgens haar word sy aan intimidasie deur die amptenare onderwerp ten spyte daarvan dat haar rekening vooruit betaal is, en ‘n krediet reflekteer.
Sodra die munisipaliteit reageer sal hulle weergawe van die kwessie aan lesers deurgegee word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'