Volgens Monra Harmse is hulle moeg vir voertuie wat jaag.
"Dit is iets vreeslik. Hulle jaag net. Ons vrees vir ons kinders se lewens. Kinders loop heeldag hier om na die naby geleë kafee te gaan.
"Wanneer ry een van die voertuie hulle nie raak nie?"
Harmse het aan die Oudtshoorn Courant verduidelik dat dit stewige spoedwalle is wat met klip en grond gebou word.
"Ons het die klippe bymekaar gepak en toe die grond bo-oor gegooi en dit styf gestamp. Ek weet daar is mense wat kwaad is daaroor, maar dit gaan oor ons kinders se veiligheid. As hulle nie gejaag het nie was dit nie nodig nie."
Die inwoners het reeds twee spoedwalle gebou. By elkeen is 'n handgemaakte stopteken om bestuurders te herinner aan die spoedwal en hulle te waarsku om stadiger te ry.
Dit is egter nie die enigste straat waar mense self spoedwalle bou nie. Daar is ondermeer ook spoedwalle in Rosebank, Die Lane en die Askamp gebou.
