OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipalititet het gehoor gegee aan gereelde beroepe deur motoriste, inwoners en sakelui om ‘n oplossing vir die kruising van Van der Riet- en Baron van Reedestraat te vind.
Sakelui wat besigheidspersele naby die kruising het, het sowat ‘n maand gelede met amptenare van die munisipaliteit vergader oor die talle botsings wat op ‘n gereelde basis by die kruising voorkom.
Tydens die vergadering het die munisipaliteit onderneem om die korrekte kanale te volg om ‘n kenner aan te stel om verkeersvloei by die kruising te ondersoek en voorstelle oor beveiliging te maak.
Lyners Raadgewende Ingenieurs van George is aangestel om die verkeersvloei by die kruising en ook vir die gedeelte van Baron van Reedestraat tussen Noordstraat en Kerkstraat te monitor en voorstelle te maak vir ‘n moontlike oplossing.
Paul Miller van die musnisipaliteit se tegniese afdeling het gister vir Rian Lourens van Lyners aan die sakelui by die kruising voorgestel en hulle gevra om die probleem aan hom te verduidelik en insette te lewer.
Amptenare van die provinsiale departement van vervoer sowel as Oudtshoorn se verkeershoof was teenwoordig. Volgens Miller het Lyners die opdrag gekyk om die verkeersvloei by die kruising en na weerskante toe met Baron van Reedestraat langs te bestudeer. Lyners is ook gevra om by die skougronde na die aansluiting van Parkweg en Rademeyerstraat te kyk waar ook reeds talle ongelukke plaasgevind het.
Volgens Lourens gaan hulle studie ten minste agt weke duur waarna hulle voorstelle aan die munisipaliteit sal voorlê.
Die voorstelle moet ook deur die munisipaliteit aan die provinsiale departement van vervoer voorgelê word aangesien Baron van Reedestraat ‘n provinsiale pad is wat deur die munisipaliteit bestuur word.
Die groep belanghebbenes wat Donderdagmiddag by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat bymekaargekom het is, van links: Jaco Vorster (sakeman en voorsitter van die Oudtshoorn besigheidskamer), Johan Duvenhage (prokureur), Patrick Jordaan (verkeershoof), Cobus Saayman (sakeman), Paul Miller (Oudtshoorn munisipaliteit), Mannetjie de Beer (sakeman), Rian Lourens (Vervoeringenieurspesialis van Lyners Raadgewende Ingenieurs), Hikkie Marais (sakeman) en Cornelius Malgas (provinsiale epartement van Vervoer).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'