KAROO NUUS - Sy het so hard "agter die skerms" gewerk – daarom voel dit steeds onwerklik dat sy haar eerste boek uiteindelik, ná jare se skryfwerk, kan vashou.
Die reus van Groenberg, Hanli Burger van Prins Albert se debuutwerk, het einde Julie verskyn, en sy is nie 'n bietjie trots daarop nie.
Dit word einde vandeesmaand by die dorp se Leesfees bekendgestel. Dit kom ná jare se skryfkursusse, gereelde deelname aan skryfkompetisies, lang beplanning van dié boek, en uiteindelik die samevoeging van teks en eie tekenwerk.
"Dit was 'n harde jaar; ek het so hard gefokus op daardie werk agter die skerms. Eers die breë trekke van die verhaal wat in jou kop posvat, dan onseker begin tik, en dan moet jy jou verhaal herhaaldelik redigeer sodat ander mense, nie net jý nie, dit kan geniet en daarmee kan assosieer."
Burger het voorheen al die prosa- sowel as digkunskompetisie van die Prins Albert-leesfees gewen en twee jaar gelede ook die eerste en derde prys van die afdeling prosa (ongepubliseerde werk) van die Bloemfontein Skrywersvereniging (BSV). Een van haar gedigte is ook gepubliseer in die pandemiedigbundel Maskers en mure (2021). "Om in die BSV-kompetisie ander deelnemers van reg oor die land uit te stof, het bevestig waartoe ek in staat is, ongeag die boksie waarin mense jou gereeld plaas."
'n Uitgebreide woordeskat, goeie taal-gebruik, goeie sinskonstruksie, treffende metafore, met die nimmereindigende lees van ander skrywers se digkuns en prosa, is haar grondslag, vertel Burger. "So ook twee skryfkursusse wat ek voltooi het."
Geleidelik het dié kinderverhaal, oor 'n vraatsugtige reus wat die lewensbestaan van die inwoners van 'n klein dorpie bedreig, in haar gedagtes kom lê. "'n Mens skryf vanuit jou verwysingsraamwerk. Ek woon in 'n klein dorpie en sulke plekkies kom gereeld voor uitdagings te staan wat almal se samewerking vereis om 'n werkbare oplossing te vind. My verhaal se tema is dat jy nooit die skynbaar onbenullige of onindrukwekkende inwoner oor die hoof moet sien nie. Die Engelse praat van die dark horse. Iemand het my ook al 'n buiteperd genoem. Maar ek het ook al geleer dis buiteperde wat vir die grootste verrassings sorg."
Die karakters in Burger se boek trek aandag … die windlawaaie, die praatsiekes, die waaghalsiges, die versigtiges, die dapperes en een beskeie glasblasertjie. Maar jy lees ook van die bankbestuurder, haarkapper, skoolhoof, posman en mediese dokter.
"Dis nogal heerlik om die draak te steek met diesulkes. Kinders kan dus die boek lees vir 'n lekker spanningsvolle storie; grootmense weer om hulself dalk daarin raak te lees."
En die berg? "Daar bestaan 'n regte Groenberg naby Wellington. Maar hier in Prins Albert woon ons aan die voet van die Swartberg. Ek rig my blik op allesbehalwe net my onmiddellike omgewing."
Sy skryf "wanneer ek 'n bevlieging kry, of sal ons sê inspirasie. Soggens, saans, wanneer ek alleen is, selfs wanneer ek toesig hou iewers in 'n eksamenlokaal." Burger verwys na haar gereelde toesighoudingswerk as hulponderwyser. Sy gaan nêrens heen sonder 'n tekenboek en kwassies en verf, penne en kryte nie – want net soos teks, ontstaan illustrasies allereers in jou kop, sê sy. "Ek het formele opleiding in 'n kunsrigting ontvang, maar dit was my mikpunt en kleintyd-belofte aan myself om sowel die teks en die illustrasies te behartig. Ek voel dié twee aspekte werk saam om die geheel te bied."
Haar gunstelingskrywers is Daleen Matthee, Elsabé Steenberg, Etienne van Heerden, PH Nortjé, Alba Bouwer, Roald Dahl, Nadine Gordimer en JM Coetee.
Op Prins Albert kuier sy dikwels aan huis van die digter en vertaler Daniel Hugo, wat sy as een van haar groot mentors beskou. "Tussen baie boeke, met baie gesprekke oor skryfwerk, taalwerk en die digkuns."
Haar volgende mikpunt is 'n digbundel, kortverhaalbundel en nog 'n kinderboek oor haar gunstelinghond, Hugo se Africanis met die naam Emily Dickinson, oftewel "Mielie".
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’