OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium het 'n tweede plek behaal tydens die Wes-Kaap se 2018 Nasionale Senior Sertifikaat-geleentheid.
Die toekenning is gemaak vir akademiese uitnemendheid vir skole wat ook 'n tegniese baan aanbied.
Volgens Stephanus Potgieter, skoolhoof, grond die keurkomitee die toekenning van die prys op spesifieke kriteria waarin die gemiddelde prestasie in berekening gebring word in die volgende vakke: wiskunde, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, tegniese wetenskap, tegniese wiskunde, elektrisiënswerk, houtbewerking en pas- en draaiwerk.
"Hierdie prestasie is die gevolg van ’n uiters toegewyde personeel wat baie hard werk en moeite met ontvanklike leerlinge doen om die beste volgens hulle potensiaal te presteer," het Potgieter gesê.
Hy het ook erkenning aan die skool se ouers en beheerliggaam gegee wat alle pogings van die skool om akademiese sisteme effektief te laat funksioneer, ondersteun.
"Hierdie toekenning is vir die skool ’n baie groot eer en is net ’n aansporing om ons leerlinge verder te bemagtig om hulle beste te lewer ter voorbereiding vir die wêreld van werk."
Tydens die oorhanding van Langenhoven Gimnasium se toekenning is, van links: Alan Winde (provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid), Stephanus Potgieter (skoolhoof), Debbie Schäfer (provinsiale minister van onderwys) en Brian Schreuder (hoof van onderwys in die Wes-Kaap.) Foto verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'