OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium spog vanjaar met 'n 100% slaagsyfer.
Hanro Basson, was nie net Gimmies se hoofseun van 2023 nie, maar hy is ook die skool se topleerder met sewe A-simbole en 'n 89,86% slaagsyfer.
Hy het Afrikaans, Engels, lewens-oriëntering, wiskunde, ingenieursgrafika en ontwerp, elektriese tegnologie en fisiese wetenskappe gehad.
Basson sê hy is opgewonde oor wat 2024 vir hom inhou en gaan hy einde van die maand Potchefstroom toe om meganiese ingenieurswese te gaan studeer.
"Ek het plek gekry in Patria-manskoshuis. Dit was van die begin af my eerste keuse. Ek sien veral uit na die koshuislewe. My vriende het altyd daaroor gepraat en nou kan ek dit self beleef."
Basson sê dat daar 'n hele paar van sy vriende saam met hom Potchefstroom toe gaan.
"Ek wil graag my studentelewe geniet en sien uit na die uitdagings wat voorlê, die plan is darem om hard te werk ook," skerts hy.
Die res van die top-5 is as volg:
Jeanie du Plessis was op Basson se hakke met 89,29% en ook sewe A-simbole.
Soleil van der Merwe is in die derde plek met 87,14% en sewe A-simbole.
Ciska Nortier is vierde met 87% en ses A-simbole en Altus Brewis is vyfde met sewe A-simbole.
Die topvyf is van links: Soleil van der Merwe, Ciska Nortier, Jeanie du Plessis, Hanro Basson en Altus Brewis. Foto: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’