OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBS) het die week 'n verklaring uitgereik waarin hulle erkenning aan 103 hoërskole in die Wes-Kaap gegee het vir hul bydrae van 12 926 eenhede bloed gedurende 2023.
Langenhoven Gimnasium is deur die WKBS aangewys as een van die toptien skole wat die meeste eenhede bloed in die Wes-Kaap vir 2023 ingesamel het.
Die toptien skole is as volg:
1. Hoërskool Outeniqua - 370 eenhede
2. Protea Heights Academy - 318 eenhede
3. Worcester Gimnasium - 276 eenhede
4. Hoërskool Vishoek - 264 eenhede
5. Hoërskool Emil Weder - 249 eenhede
6. HTS Drostdy - 246 eenhede
7. Settlers High School - 234 eenhede
8. Hoërskool Bergvliet - 233 eenhede
9. Langenhoven Gimnasium - 218 eenhede
10. Hoërskool George - 194 eenhede
So sê die WKBS:
"Die behoefte aan bloed en bloedprodukte verhoog jaarliks en dit is dus noodsaaklik vir die WKBS om die aktiewe skenkerbasis te vergroot. Die jeug speel 'n belangrike rol in die volhoubaarheid van die organisasie, en daarom smee WKBS se goeie bande met opvoedkundige instellings en stig bloedskenkklinieke by hul perseel," lui die verklaring.
Volgens die WKBS moedig hulle ook ander skole aan om deel te neem aan die bloedskenkaksies. Hoërskoolleerders kan op 16-jarige ouderdom begin bloed skenk. Geen ouerlike toestemming is nodig nie. Leerders moet egter die POPIA-vorm voltooi, en ouers moet hierdie wettige toestemmingsdokument onderteken om inligting te verwerk. WKBS doen 'n beroep op hoërskole in die Wes-Kaap om met hulle in aanraking te kom om óf 'n bloedskenkkliniek by hul skool te vestig óf uit te vind waar die naaste bloedskenkkliniek is.
“Dankie aan al ons superhelde by die skool wat die ekstra myl loop en ons help om 12 926 merkwaardige eenhede bloed in te samel,” sê Marike Carli, openbare betrekkinge bestuurder by WKBS.
Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, besoek asseblief www.wcbs.org.za, laai die WCBS-toepassing af, of stuur 'n WhatsApp na 060 549 7244.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'