OUDTSHOORN NUUS - 'n Verdagte van De Rust wat van veediefstal aangekla word is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof borgtog geweier.
Landdros Tom Claassen het borgtog aan die 28-jarige André Muller geweier omdat hy reeds drie vorige relevante veroordelings op sy kerfstok het.
Sy medebeskuldigde, David Snyman (31), is met streng voorwaardes op waarskuwing vrygelaat.
Muller en Snyman word daarvan aangekla dat hulle tussen 30 Augustus en 4 September vanjaar drie Merino-ooie ter waarde van sowat R7 000 van Pieter Schoemen van Vredelust by De Rust, gesteel het.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het borgtog teengestaan omdat die beskuldigdes volgens haar nie eerlik met die hof was nie en Muller nie vir die eerste keer van veediefstal aangekla word nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 19 Oktober uitgestel en Snyman is gewaarsku om weg te bly van twee staatsgetuies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’