Daar was ongeveer 30 paartjies teenwoordig en almal het heelhartig aan die besprekings van die dag deelgeneem.
Die tema van die dag was "Vergifnis", maar verskeie algemene aspekte en uitdagings binne verhoudings, gesinne en die huwelik is bespreek, ontleed en moontlike oplossings ondersoek. Kommunikasie, leemtes en respek was van die onderwerpe wat groot reaksie onder die teenwoordiges ontlok het. Pare en individue is aangemoedig om by van Famsa Karoo se programme, onder meer huweliksverryking, huweliksvoorbereiding, ondersteuning tydens en na 'n egskeiding, ouerleiding en positiewe ouerskap, betrokke te raak.
Die program is deur Naomi Claassen (maatskaplike hulpwerker) gelei, en sy is baie goed deur haar kollega, Reva Collins (gemeenskapsontwikkelingswerker) bygestaan. Die Direkteur van Famsa Karoo, mnr. Franzu Badenhorst het 'n breë oorsig van Famsa Karoo se werksaamhede gegee, asook 'n meer in diepte beeld van die St Francis Invalsentrum en die uitdagings en gevare wat kinders wat op straat woon, werk en bedel, moet trotseer.
Die gasspreker van die dag was pastoor George Damons, 'n plaaslike geestelike leier. Hy het al die besprekingspunte saamgevat en dit verseël deur die belangrikheid van wedersydse vergifnis te beklemtoon.
Famsa Karoo sal 'n soortgelyke gesinsdagprogram in Dysselsdorp op Sondag 25 Mei aanbied. Indien u belangstel om die Gesinsdagprogram by te woon, kan u die Famsa Karoo-Kantoor by 044 272 7020 kontak, of vir Naomi Claassen by 083 489 2942 / Reva Collins by 082 935 2859.
Die aanwesiges het die gesinsdagprogram met 'n gewyde lied geopen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'