UNIONDALE NUUS - Duisende inwoners van Uniondale en die omgewing het op Oujaarsaand saamgetrek om die koms van 2020 te vier.
Volgens die hoof uitvoerende beampte van RYCO (Rural Youth and Christian Organisation), Rhyno Davidson, wat die feestelikheid gereël het, was dit die grootste geleentheid ooit op Uniondale met by die 3 000 mense wat dit bygewoon het..
Oud en jonk het opgedaag vir die makietie en na die verskeie kunstenaars te luister.
Die aand se verrigtinge het begin met die plaaslike kunstenaar en seremoniemeester, Charles “Charliam:” Mokoena, wat die skare gaande gehad het met sy danspassies.
Priester Gerald Stolz het vir ‘n woord van aanmoediging gesorg terwyl Fernando Frederick die lofprysing gelei het.
Die komediant, Moses Williams, het die skare vermaak met sy sêgoed oor sy liefdeslewe, nuwejaarsvoornemens en inspirerende stories.
Davidson het die gemeenskap bedank vir die goeie opkoms asook die talle rolspelers waaronder die George munisipaliteit, die polisie, die Jeugkafee, HAS Konstruksie. die betrokke wykskomitee, skole en kerke.
“Dit is van grootste belang om die gemeenskap positief te bemoedig na 'n lang jaar met baie uitdagings. Ons eerste fees het met sowat 50 mense begin maar danksy die genade van God het Ryco se programme gegroei,” sê Davidson.
Volgens Davidson is al die vennote en rolspeleres baie belangrik maar verdien die Sultheheim Hotel ekstra vermelding vir hul daaglikse skenkings aan die organisasie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'