CALITZDORP NUUS - De Krans-wyne op Calitzdorp het sy stempel van uitsonderlike gehalte saam met ander Klein-Karoo-kelders afgedruk.
Dié kelder het twee bubbelgoue medaljes en 'n goue medalje by die onlangse Veritas-toekennings ingepalm.
De Krans se Cape Vintage Reserve 2016 en 2017 het elk dubbelgoud verdien terwyl hulle Muscat de Frontignan 2019 met goud weggestap het. Die Veritas word as die land se premier wynkompetisie beskou en uit 'n totaal van 1 411 medaljes is slegs 76 dubbelgoue- en 198 goue medaljes toegeken.
Die Muscat de Frontignan 2019 het vroeër vanjaar ook presteer toe dit by die Michelangelo International Wine Awards 'n platinumtoekenning ontvang het.
Die beoordelaarspaneel, wat verskeie internasionale kenners insluit, het vyf dae spandeer om alle inskrywings blind te toets.
Nog vier van De Krans se wyne het by die afgelope Ultra Value Wine Challenge 2019/2020 uitstekend gevaar deur twee dubbelgoue- en twee goue medaljes in te palm. Boets Nel, mede-eienaar en besturende direkteur van De Krans het gesê hulle is verheug oor die aantal toekennings wat De Krans ontvang het.
"Die toekennings lewer bewys van die toewyding van die hele span om voortdurend die kwaliteit van ons produkte te verbeter." Die Ultra Value Wine Challenge beoordeel wyne waarvan die prys onder R150 per bottel beloop.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Karoo nuus'