OUDTSHOORN NUUS - Brian Nieuwoudt, onder baie mense ook bekend as Basjan, se harde werk en deursettingsvermoë om 'n CD met gospelmusiek vry te stel is hierdie week beloon.
Sy CD, Vrygekoop, waaraan hy te midde van al sy ander verpligtinge, die afgelope ses jaar gewerk het, is Dinsdagaand in Oudtshoorn bekend gestel. Die tuinrestaurant, Casa del Sole, was stampvol ondersteuners wat na musiek wat op die CD verskyn kom luister het.
Brian en sy interkerklike bedieningsorkes, ook met die naam Vrygekoop, het vyf snitte van die CD gespeel.
"Ek het in 2010, na 'n loopbaan van vyf jaar in die sekulêre musiekbedryf, besluit ek gaan die ta-lent wat die Here vir my gegee het aanwend om sy boodskap te verkondig," het hy Dinsdagaand tydens 'n blaaskans gesê.
Volgens Brian het hy sedert 2010 nie weer opgetree as sekulêre musikant nie. Hy het al 17 liedjies op die CD self geskryf. Behalwe vir sy ta-lent as musikant is Brian ook 'n skilder en skrywer.
Van sy skilderye word by 'n galery in George uitgestal en 'n boek, Jakkalsdraai se mense en verskeie korter stukke het al uit sy skrywerspen gevloei.
Die CD, Vrygekoop, is eersdaags in musiekwinkels beskikbaar en word deur Vonkmusiek versprei.
Orkeslede van Vrygekoop wat Dinsdagaand tydens die bekendstelling van Brian Nieuwoudt (tweede van links) se CD opgetree het. Links is Brian se seun, Sebastiaan (baskitaar). die res van die orkes is Pieter Grobler (dromme), dr. Tommy Bell (kitaar) en Hendrik Mostert (klawerbord).
ARTIKEL & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'