OUDTSHOORN NUSU - Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, is een van twintig Afrikaanse digters op wie daar gefokus gaan word in die TV-programreeks 'Ek wou nog sê…' wat van middel Oktober op VIA (Kanaal 147) uitgesaai word.
Visser het onlangs gedebuteer met sy digbundel 'Die jaar toe pa …'
Die TV-reeks, met die digter Daniël Hugo as gespreksleier, is ’n uitvloeisel van die Avbob-poësieprojek wat twee jaar gelede begin is om gepubliseerde én ongepubliseerde digters in al elf amptelike landstale te inspireer om te skryf.
Die kompetisie duur elke jaar vier maande, en vanjaar s'n het op 1 Augustus, begin.
Digters het kans om tot 30 November in te skryf. In die TV-reeks gesels die digters oor die belangrikheid, en genot, van hul skryfwerk in Afrikaans.
Visser vertel die TV-opname verlede naweek in Sandton, Johannesburg, was vir hom 'n unieke ervaring.
"Emma Bekker met haar digbundel, 'Skryn', was saam met my in die opname. Daniël Hugo was die ideale gespreksleier met sy gemaklike en informele aanslag. Daar is waarskynlik bitter min wat hy nie oor die Afrikaanse digkuns en die letterkunde weet nie."
“Dis asof daar ’n oplewing in die Suid-Afrikaanse digkuns is. Dit het ’n voor- én nadeel. Die nadeel is dat gedigte teen die spoed van lig op Facebook uitgespoeg word sonder enige redaksionele versorging. Die Avbob-projek is ’n puik platform waar gedigte deur ’n keuringsproses gaan wat sorg dat dit wat op die web geplaas word, kwaliteit is."
Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die reklameagentskap, Brand et al, wat die projek namens Avbob dryf, sê oor die 50 000 inskrywings is binne twee jaar ontvang en meer as 6 000 gekeurde gedigte is op die Avbob Poetry-webtuiste gepubliseer.
“So iets bestaan nêrens ter wêreld nie. Avbob kry nie naastenby die erkenning hiervoor wat dit verdien nie. Geen ander korporatiewe instelling het al ooit so ’n belegging in die geskrewe woord – wat nog te sê poësie – gemaak nie en dit bevorder die digkuns van al ons inheemse tale.”
Vanjaar se wenners van die Afrikaanse been is Tom Dreyer (1ste), Gaireyah Fredericks (2de), Helen Möller (3de) en Maretha Maartens (4de).
Naledi (uitgewer van Visser se bundel) kan nou met reg as Suid-Afrika se voorste publiseerder van digkuns beskou word, sê Hugo. Ses bundels het sedert begin vanjaar hier verskyn.
Volgens Johan Coetzee, uitvoerende hoof van Naledi, beleef Suid-Afrika beslis ’n poësie-oplewing in alle taalgemeenskappe, “maar in die besonder in Afrikaans. Dis belangrik vir die behoud en groei van ons letterkunde dat daar ’n professionele en inklusiewe platform sal wees wat digters aanmoedig, beloon en bevorder. Digkompetisies soos hierdie, asook mediablootstelling soos die TV-program, is baie waardevol.
“Hoewel baie gevestigde digters aan die kompetisie deelgeneem het, is die vier wenners óf ongepubliseerde óf selfgepubliseerde digters,” vertel Hugo. “Nie een is as digter deel van die hoofstroomdigkuns nie. Die gehalte van hul werk was besonder goed.
Volgens hom het talle digters verlede Donderdagaand by die oorhandiging van die pryse gesê hulle is bekommerd oor die voortbestaan van die elf inheemse landstale “en dat dié projek die enigste in die land is wat hul skryfwerk publiseer, op die webtuiste en in boekvorm. Jy hoop verniet die regering gaan iets doen oor moedertale. Dit móét met privaat geld gedoen word.”
Hannes Visser en Daniel Hugo besig met die TV-opname vir VIA in die ateljee van Production et al. Foto: Production et al
'Ons bring jou die nuutse Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'