OUDTSHOORN NUUS - Reën wat Sondagaand en Maandag oor groot dele van die Klein-Karoo geval het, het gemoedere gelig en boere geleentheid gegee om landerye voor te berei.
Reënval wat gemeet is het gewissel vanaf 15 mm op sommige plase tot soveel as 50 mm in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam.
Die dam se vlak het Dinsdag op 48,6% gestaan en daar is 'n verwagting dat die vlak effens sal styg as die reënwater binne die volgende paar dae in die dam ingevloei het. By sommige huise in die dorp is tussen 25 mm en 30 mm gemeet.
Volgens Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein-Karoo is die reën uiters welkom. "Dis is nog nie naastenby genoeg om die droogte te breek nie, maar ten minste kan landerye voorberei word, weiding kan aangeplant word en boere is meer positief.
Volgens hom het reënval op plase vanaf 15 mm tot 25 mm gewissel. Die reën het ook 'n verdere voordeel tot gevolg. Water sou Dinsdag uit die Stompdriftdam vrygelaat word en met ongeveer 80 kilometer se kanale tot buite Calitzdorp afgevoer word.
As gevolg van die reën is die vrylating tot Maandag 4 Mei uitgestel.
Nog goeie nuus vir boere is dat veilings onder sekere voorwaardes weer aangebied kan word. Die eerste veeveiling sedert die inperking is Dinsdagoggend by die Kansa-krale buite Oudtshoorn gehou.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'