OUDTSHOORN NUUS - As jy jou inkopies by Checkers of De Jagers in Oudtshoorn doen het jy al vir oom Nollie gesien, eintlik gebore, Cornelius de Laan.
Hy staan altyd half eenkant sodat hy jou nie pla nie, maar sy helderkleurige, handgemaakte windwaaiertjies trek altyd die aandag.
De Laan is op 7 Augustus 1953 op 'n plaas in die Kammanassie gebore.
Hy vertel dat hy 'n natuurkind is, want dis waar hy grootgeword het - die vlaktes was sy speelplek. Graad 1 tot 4 voltooi hy by 'n plaasskool naby sy ouerhuis en gaan van gr. 5 tot 6 na Rooiheuwel Primêr.
In 1979 voltooi hy sy matriek aan Hoërskool Môrester.
Na matriek begin hy by die Coca-Cola-fabriek werk en in 1980 by die winkel wat nou as Checkers bekendstaan. Van die werwels in sy rug het geskuif en moes hy na Groote Schuur-hospitaal gaan. Hy vertel dat hulle nege dae lank die een X-straal na die ander geneem het. Dis hier waar hy sy belangstelling in radiologie ontwikkel het; eendag op pad na nog 'n X-straal sien hy 'n swart sak wat hang, net daar word die trollie gestop en 'n hele skelet van 'n mens - in die fynste besonderhede word ten toon gestel. "Dit was 'n besondere oomblik vir my, jy kon selfs die oogkaste sien en die fyn beentjies in die hande."
Na die besering was De Laan nie weer dieselfde nie, hy het ook artritis van sy ma oorgeërf en volgens hom het dit net sy rugbesering vererger en aangehelp. In 2000 word hy deur 'n dokter as ongeskik vir werk verklaar. Sy rug is op die oomblik stokstyf en hy verkies om eerder te staan, want sit is byna onmoontlik.
Sy waaiertjie-idee kry hy eendag terwyl hy deur 'n Huisgenoot blaai en op 'n templaat van die waaier afkom. Hy het daardie dag alles gekry wat hy nodig het en ook die idee om 'n kurkprop as anker en stut te gebruik. "Ek wil net vir De Krans en Peter Bayly dankie sê dat hulle altyd vir my kurkproppies gee."
Jy sal hom daar sien staan - in die parkeerterrein met die helderkleurige windwaaiertjies in die hand, selfs 'n blikkitaar en kandelaar as hy die dag een gemaak het.
n De Laan se mobiele bromponie het in 2021 totaal die gees gegee - mooi opgepas en vanaf 2013 selfs daarmee dorp toe gekarwei. "Ek kort 'n part op my scooter," hy ken die partnommer uit sy kop, "model nommer 1110-3200." Op die oomblik sukkel hy skuifel-skuifel met sy kierie en moet 'n taxi neem om elke dag in die dorp te kom.
Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'