OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se Yolande de Villiers het die afgelope naweek stof in haar teenstanders se oë geskop toe sy die Nedbank Desert Dash-uitdaagbergfietswedren in die Namib-woestyn gewen het. As deel van haar wenprys het sy R38 000 ingepalm.
Die Namib is die wêreld se oudste woestyn en temperature kan tot 'n moordende 50°C styg. Vir De Villiers om hierdie wedren in uiterste weerstoestande oortuigend te kan wen is voorwaar 'n testament van haar karakter en deursettingsvermoë as sportvrou.
Die wedren, waarin meer 2 000 deelnemers vanoor die wêreld meegeding het, beslaan 397 km en die roete begin in Windhoek waar dit tot 'n hoogte van 2 000 m bo seespieël klim en dan in die kusdorpie Swakopmund, aangrensend aan die Atlantiese Oseaan, eindig.
De Villiers vertel dat wind vir sowat 80 persent van die wedren redelik sterk gewaai het en daarom het sy aanvanklik eers tentatief weggespring.
"By die 120 km was ek in die tweede plek en dis toe dat ek besluit het om die lead te neem en vandaar af, het ek weer terug gekyk nie. Net om die Desert Dash te kan voltooi is 'n prestasie, want nie almal wat deelgeneem het, kon dit voltooi nie."
Volgens De Villiers is hierdie oorwinning beslis die hoogtepunt van haar loopbaan:
"Ek kan net nie ophou glimlag nie. Wat 'n wonderlike gevoel om die Nedbank Desert Dash te wen en ek sal hierdie herinneringe vir altyd koester. Baie dankie aan Echo Namibia vir al jou ondersteuning op en van die fiets. Dit was 'n absolute eer en groot voorreg om jou handelsmerk te verteenwoordig. Ook aan my man, Henties de Villiers, wat in 'n viermanspan saam met Willie Serfontein, Gabrie Jordaan en Fanie Botha gery het. Julle het gekook! Ons is net mal oor Namibië - die groot en oop ruimtes, unieke woestynlandskappe, ryk natuurlewe sowel as die wonderlikste mense maak hierdie land onvergeetlik en ons sal definitief terugkeer," het 'n ekstatiese De Villiers gesê.
De Villiers was ook vanjaar baas in onder andere die Swartberg Extreme, Attakwas, Prins George Monumental 100 Miler en die 360NE MTB-uitdaagbergfietswedren. Sy en haar spanmaat, Stephanie Wohlters het die sesde en laaste been van die Momentum Medical Scheme Cape Pioneer Trek gewen wat in September beslis was.
'n Merkwaardige terugkeer soos min as 'n mens in ag neem dat De Villiers in 2019 tydens 'n bergfietswedren haar linker tibia op vier plekke gebreek en ook 'n fraktuur aan fibula opgedoen het.
Merkwaardige terugkeer soos min as 'n mens in ag neem dat De Villiers in 2019 tydens 'n bergfietswedren haar linker tibia op vier plekke gebreek en ook 'n fraktuur aan die fibula opgedoen het. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'