CALITZDORP NUUS - De Krans Wynkelder in Calitzdorp se status as een van die beste portprodusente in die land is pas weer bevestig.
Twee van die kelder se port-styl wyne onderskeidelik het 96 en 92 punte ontvang in die jaarlikse verslag oor Suid-Afrikaanse wyne deur die gesaghebbende wynkommentator en Britse wynmeester Tim Atkin.
Hy beskryf De Krans as 'n "briljante produsent van gefortifiseerde wyne".
Atkin, wat beskou word as een van die topwynskywers ter wêreld, het ongeveer 1 700 Suid-Afrikaanse wyne beoordeel in hierdie 2017 verslag, wat gepubliseer is op 13 September.
De Krans se 2015 Cape Vintage Reserve het 'n uitstekende 96 punte gradering ontvang.
Dit is ook in die verslag aangewys as die Beste Gefortifiseerde Wyn in Suid-Afrika.
Dit was ook die hoogste punt wat nog ooit behaal is deur enige wyn uit die Klein-Karoo-streek. Volgens Atkin is dit "die beste jong port-styl wyn wat hy al ooit geproe het uit Suid-Afrika"
De Krans se Cape Tawny Ltd Release het ook skitterend gevaar met 92 punte.
Die Cape Tawny Ltd Release het reeds 'n 4½ ster gradering ontvang in die 2017 Platter's Wyngids.
De Krans se vlagskiprooiwyn, die 2015 Tritonia Rooi Calitzdorp Versnit, het 91 punte behaal. Die wyn is ook vroeër vanjaar as die Beste Suid-Afrikaanse Rooi Versnitwyn by die 2017 Old Mutual Trophy-wynskou aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'