Daar was berigte oor huisies wat afgebrand het, gesinne wat aan die elemente oorgelaat is as gevolg van 'n ysige en nat winter, probleme met water en riolering, maar daar was ook berigte van 'n nuwe kleuterskool, 'n sokkerspan en foto's van helder tuine in die middel van die klipperige en droë bulte van die nedersetting.
Deur die jaar het dit duidelik geword dat daar mense in Rose Valley is wat nie net op 'n hopie sit nie, maar bereid is om self in te spring om hul omstandighede te verander.
Die Oudtshoorn Courant wil graag in 2013 meer betrokke raak by die mense van Rose Valley en wil graag hande vat met organisasies en individue wat reeds uitreikings in die gebied doen of van voorneme is om betrokke te raak.
Nie almal in Rose Valley sit op 'n hopie nie. Daar is 'n hele paar kleurvolle tuine en groentetuine wat bewys lewer van mense se wil om 'n uitweg te soek.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR