OUDTSHOORN NUUS - Nadia Brits, eienaar van Pro Academy Dansskool in Oudtshoorn, is genomineer vir die Woman of Stature Awards South Africa 2024.
Brits sê sy is onder die Woman in Arts and Culture-kategorie genomineer.
Die Woman of Stature Awards South Africa het hom sedert sy ontstaan in 2013 as 'n baken van bemagtiging en erkenning gevestig. Hulle het ten doel om vroue te inspireer en hulself aan te moedig om nog beter te doen en nog hoër hoogtes te bereik.
"Dit is vir vroue wat deur hul beroep 'n verskil maak en 'n positiewe verandering op hul gemeenskap het."
Brits sê sy het haar dansskool 13 jaar gelede begin.
"Dans is my passie en ek wou ander help om hul passie te ontwikkel. Ek het hierdie besigheid op die ouderdom van 18 begin met die visie om nie net te onderrig en op te voed nie, maar om lewens te verander. Ek glo dat my werk soveel meer is as net om dans te onderrig. Ek het die geleentheid om lewens aan te raak, bewustheid te skep en 'n veilige ruimte te bied vir kinders om hul gevoelens uit te druk. Ons leer lewensvaardighede en skep boustene van selfdissipline wat lank na dansklasse sal hou."
Sy het ook drie jaar gelede 'n dagsorg oopgemaak.
"By ons dagsorg bied ons 'n spesiale behoefteprogram aan vir kinders met downsindroom en ander tipe gestremdhede en maak hulle ook deel van ons dansproduksies en geleenthede."
Die wenners word in Fourways, Johannesburg op 13 April 2024 tydens 'n galageleentheid bekendgemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’