OUDTSHOORN NUUS - Ses gesinne wat al hulle besittings in brande tydens die Feesgety verloor het, het verlede Vrydag sakke met kruideniersware van weldoeners ontvang.
Paul Amas en sy groep, House of Entertainment het die kruideniersware in samewerking met Sky Lounge aangekoop en aan die gesinne oorhandig.
Hulle het dit deur bemiddeling van die plaaslike departement van maatskaplike ontwikkeling gedoen.
"Daar is nie 'n manier wat ons dit wat julle verloor het kan vervang nie, maar ons kan tog met hierdie klein gebaar 'n bydrae lewer om in van julle behoeftes te voorsien," het hy by die Thusong-sentrum aan die ontvangers van die kruideniersware gesê.
Volgens Amas beplan hulle om op 'n gereelde basis vertonings te hou wat daarop gemik is om geld vir behoeftiges in te samel.
Die eerste optrede vir hierdie doel is voorlopig op 28 Februarie by Brian's Grill.
Twee amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling, Sara Olieslaager (links agter) en Stephzil Willemse (regs voor) by lede van die gesinne wat die skenkings ontvang het.Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'