OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R500 is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan 'n man van Rosebank, Oudtshoorn, wat tereg staan op 'n klagte van diefstal vanuit 'n voertuig.
Die 42-jarige Gerhard Jansen wat al voorheen aan roof skuldig bevind is, word daarvan aangekla dat hy op 9 September helder oor dag 'n selfoon uit 'n geparkeerde motor in 'n straat in Rosebank gesteel het - ten aanskoue van iemand wat hom dopgehou het.
Die staatsaanklaer, Driago Edwards, het Jansen se aansoek om borgtog teengestaan na die getuienis van die ondersoekbeampte, Sers Sharoné Flemmer, wat volgens die landdros 'n baie goeie getuie was,
Flemmer het getuig dat Jansen 'n neiging toon om diefstal te pleeg en voorheen ook al hofvoorwaardes verontagsaam het.
Landdros Stephanie Strydom het egter beslis dat dit wel in belang van geregtigheid is om borgtog aan Jansen toe te staan.
Sy het hom gewaarsku dat dit 'n laaste kans is, en die saak tot 30 Oktober uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’