CALITZDORP NUUS - Boplaas Familiewingerde op Calitzdorp het vanjaar by die Michelangelo International Wine & Spirits Awards bo al die ander kelders in die land uitgestaan as die beste van die bestes.
Michelangelo is die grootste kompetisie van sy soort en het vanjaar meer as 2 000 inskrywings in verskillende kategorieë ontvang.
Carel Nel, keldermeester van Boplaas, het Maandag gesê hierdie trofee is vir hom en sy span die kroon van hulle talryke pryse. "Om groot en bekende kelders in die land uit te stof is iets waarop ons ongelooflik trots is."
Nie net is Boplaas as die beste produsent in die land aangewys nie, hulle het ook 'n string medaljes ingepalm. Drie van slegs 13 platinummedaljes wat toegeken is, is deur Boplaas verower. Daarby het hulle ook 'n dubbelgoue- en vier goue medaljes verower.
Die platinumwenners was Boplaas se Cape Vintage Reserve 2009, Boplaas Heritage White Muscadel 2014 en Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2017. Behalwe vir die agt medaljes het Boplaas se Cape Vintage Reserve Port 2009 die Multi Color Corporation Grand Prix toekenning as die beste desertwyn gewen.
Boplaas se wynmaker, Daniel Nel, het die toekennings op 4 Oktober by 'n glansgeleentheid in Kaapstad ontvang.
Die Michelangelo toekennings word jaarliks deur 30 beoordelaars uit 22 lande bepaal.
Die Nel-gesin van Boplaas Familie wingerde. Van links is Daniel, Jeanne, Carel, Margaux en Rozanne. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'