OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n voormalige boekhoudster van 'n gastehuis op Schoemanshoek wat daarvan aangekla word dat sy glo derduisende rande van die besigheid gesteel het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van die ondersoekbeampte, ao. Darome Burger, tot 11 September uitgestel.
Burger het getuig dat die beskuldigde, Emmerentia Weyngardt, by verskeie geleenthede dieselfde bedrae elektronies aan verskaffers betaal het en ook na haar eie bankrekeninge oorgeplaas het.
Sy word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 altesaam R557 707,15 van die Montana-gastehuis gesteel het. Sy ontken skuld.
Burger het getuig dat Weyngardt by ander geleenthede aangedui het dat geld na bankrekenings van verskaffers oorgeplaas is, maar volgens haar persoonlike bankstate in haar eie bankrekeninge betaal is.
Haar regsverteenwoordiger, Werner van Rensburg van Johan Wagener Prokureurs, het met kruisondervraging dit aan Burger gestel dat talle groot bedrae geld ook in die rekenings van 'n ander werknemer van die gastehuis en nog 'n persoon se rekenings betaal is.
By een geleentheid in 2014 is 'n bedrag van R40 000 glo foutiewelik in ’n werknemer se rekening inbetaal wat hy later terugbetaal het.
Die werknemer, volgens Van Rensburg, hanteer ook die kredietkaart van die besigheid.
Van Rensburg het dit ook aan Burger gestel dat die rekenmeestersfirma, Steyl en Cloete, ook oorbetalings namens die gastehuis gemaak het.
Hy het dit ook aan Burger gestel dat die eienaar van Montana, dr. Wolfgang Beitz, blykbaar nie alle inligting aan haar gegee het nie en skynbaar "baie dinge vergeet" het.
Burger het toegegee dat dit so kan wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'
Die saak is Dinsdagoggend vir meer as 'n uur verdaag sodat 'n selfoon van die beskuldigde waarop die polisie beslag gelê het, herlaai kon word om na boodskappe wat sy sou stuur en ontvang het te kyk.
Streeklanddros LA Wilkens het op 'n stadium gesê dit pla hom dat geld na verskillende verskaffers, maar met dieselfde bankrekeningnommer, oorgeplaas is.
Weyngardt is steeds op borgtog en haar borgtogvoorwaardes is vroeër verslap.
Sy hoef nie meer elke Vrydag by die Oudtshoorn-polisiestasie aan te meld nie. Sy het glo genoeg bates en woon by familie op Oudtshoorn.