OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die week 'n werkswinkel gehad om die waterkrisis in Oudtshoorn te bespreek.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, beplan hulle 'n bewusmakingsveldtog oor die waterkrisis.
“Ons wil uitreik na skole, besighede en inwoners om aan hulle die erns van die situasie te beklemtoon.”
Volgens haar wil die munisipaliteit die inwoners verseker dat hulle sal lei deur voorbeeld en nie enige drinkwater gebruik om sportvelde, middelmannetjies en munisipale grasperke nat te maak nie. "Slegs gryswater sal vir hierdie doel gebruik word."
Sy sê verder dat die munisipliteit in die proses is om 'n pyplyn vanaf Blossoms na Oudtshoorn aan te lê.
"Daar is enorme kostes hieraan verbonde. Daar moet onder meer pompe en elektrisiteit vanaf die bestaande boorgate gelê word en die kostes beloop ongeveer R25 miljoen. Dringende finansiële hulp is vanaf die provinsiale- en nasionale regering aangevra."
Volgens haar is die munisipale raad ook bereid om sy eie beleid te wysig deur pype in erwe van deernisgevalle self reg te maak.
"Inwoners word gevra om asseblief hul samewerking te gee en enige lekkasies en pypbarste so gou as moontlik by die munisipaliteit aan te meld."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'