GEORGE NUUS - ‘n Bekende sportskrywer van die George Herald, André Stander, het gisteraand (Vrydag 5 Oktober) tydens sy skoolreünie in George gesterf.
Stander is aan natuurlike oorsake oorlede.
Volgens sy vrou, Magda, het André daarna uitgesien om die reünie by PW Botha Kollege by te woon. “Hy het vroeër die dag in die berg gaan stap en was baie trots op sy gesondheid. Hy wou graag later die aand na die reünie gaan,” het Magda gesê.
Sy het egter ‘n oproep omstreeks 21:00 Vrydagaand van gaste by die reünie ontvang om haar mee te deel dat haar man in mekaar gesak het. “Ek was by die huis en hulle het gesê ek moet dadelik kom, dit lyk nie goed nie. Toe ek en my seun Francois daar aankom is hy reeds dood.”
Volgens Magda moet die presiese oorsaak van André se dood nog bepaal word, maar die vermoede bestaan dat hy aan ‘n hartaanval beswyk het. Na André se hartoperasie ‘n klompie jare gelede het hy baie aandag aan sy gesondheid gegee.
“Sy bloedsuiker was ook baie goed en hy het baie gewig verloor,” het Magda gesê.
Hugo Redelinghuys, die sportredakteur van die George Herald en André se boesemvriend, is nog totaal verslae oor sy vriend se dood. “Ons het Vrydag voor sy reunie nog vir oulaas ‘n kans gehad om saam te kuier. Min het ons geweet dit sou die laaste keer wees,” het hy gesê.
André Stander was 39 jaar werksaam by die departement korrektiewe dienste op George. Tydens sy diensjare was hy ‘n gereelde gesig op die sportvelde oor ‘n naweek, waar hy sy passie as sportskrywer uitgeleef het.
Hy het vir ‘n aantal jare na sy aftrede vir verskeie koerante as vryskutjoernalis werk gelewer, waaronder Rapport en Die Burger.
André was sedert 2015 voltyds ‘n medeskrywer van die George Herald se sportblaaie.
Hy was ook ‘n mede-aanbieder van ‘n radio-geselsprogram oor sport in ons kontrei op EDENfm saam met Johan Prinsloo, gewese hoofuitvoerende beampte van die SWD Arende.
Hy is aangewys as die Eden-sprtjoernalis van die jaar in 2016, en die Wes-Kaapse departement van kuns en kultuur het ‘n soortgelyke toekenning aan hom gemaak.
Magda en André Stander tydens ‘n toekenning (2015) van EDENfm vir sy bydrae in hul sportprogram.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'