Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 53-jarige Blain de Villiers, die eienaar van Pit Stop en Pool Stop, het Sondagoggend om 00:40 by sy huis aan 'n hartaanval beswyk.
Volgens sy seun, Deon, het Blain die afgelope twee maande erge rugpyn ondervind en gereeld siek gevoel. Hy sou hierdie week 'n spesialis gaan sien om vas te stel wat die oorsaak van die pyn is.
Blain is sowat drie jaar gelede met kanker gediagnoseer, maar het goed herstel. Hy het 'n pasaangeër gehad aangesien hy vroeër reeds hartprobleme ervaar het. Volgens een van die werknemers was dit vir hulle 'n geweldige skok om van sy dood te verneem.
Pit Stop, wat deur Blain se pa, Deon Snr, begin is, het verlede jaar hulle 50ste bestaansjaar gevier.
Blain was ook 'n swembadkenner wat uitgebreide swembaddienste gebied het. Volgens Deon gaan die onderneming se dienste ononderbroke voort, maar sal waarskynlik vandag vir 'n tyd gesluit wees ter voorbereiding en bywoning van 'n roudiens.
Verskeie klante en eienaars van omliggende besighede het hierdie week getuig van Blain se passie vir sy werk en die diens wat hy aan inwoners gelewer het.
Die roudiens vind vanmiddag om 15:00 in die NG Moedergemeente in Hoogstraat plaas.
Blain laat sy vrou, Ilse, sy ouers en seun Deon agter. Die Oudtshoorn Courant betuig hiermee ons innige meegevoel met die naasbestaandes.
Lees 'n vorige artikel: Eienaar van pit Stop sterf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'