BEAUFORT-WES NUUS - Beaufort-Wes word erg geknel deur die droogte wat die afgelope vier jaar voortsleep, maar die droogtekomitee bestuur die krisis, met die gevolg dat elke huishouding ten minste sekere dele van die dag water tot hul beskikking het.
Beaufort-Wes is een van drie Sentraal-Karoo-munisipaliteite wat almal min of meer in dieselfde bootjie is, maar omdat die dorp die karigste waterbronne en die meeste inwoners het, kos dit meet en pas om almal van water te voorsien.
Beaufort-Wes het amptelik 37 000 inwoners, of 14000 huishoudings.
Beaufort-Wes se Gamkadam het baie jare laas water gehad en die dorp is afhanklik van twee waterbronne, naamlik ‘n rioolherwinningsaanleg, wat 16% van die dorp se water lewer, en 40 boorgate wat tot 20 km vanaf die dorp gelee is, wat 84% van die dorp se water voorsien.
“Sewentien van die 40 boorgate is droog omdat die watertafel weens die langdurige droogte baie laag is,” se Hein Rust, hoof van Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit, wat ook Prince Albert en Laingsburg insluit. Die ander 23 boorgate lewer nog water, maar word oordeelkundige ontgin om te voorkom dat die boorgate opdroog en die pompe beskadig word.”
Tans lewer die bronne 4.2 megaliter water per dag, terwyl die verbruik 4.7 megaliter per dag is. Om te verseker dat al die gebiede van die dorp water het, is die dorp verdeel in twee sones. Die een sone het water tussen 09:00 en 12:00, terwyl die ander sone tussen 14:00 en 16:00 water het. Die hele dorp is van 20:00 tot 05:00 sonder water. Die besigheidsdeel van die dorp het heeltyd water.
“Wanneer een van die pompe breek sukkel ons om die watervlak van die reservoir op ‘n sekere hoogte te kry, wat veroorsaak dat die hoogliggende dele van die dorp nie water kry nie. Vir hierdie huishoudings lewer vier van die munisipaliteit se bakkies twee 5 liter-kanne water by hierdie huishoudings af,” verduidelik Hein.
Heelwat water is reeds deur Gift of the Givers aangery en of geskenk deur talle instansies en mense wat deur die dorp ry. Die 5 liter-kanne word gestoor sodat dit uitgedeel kan word om seker te maak almal in die dorp het water. Volgens Rust het Gift of the Givers reeds sowat R6 miljoen bestee om water vir die dorp te voorsien. ‘n Gedeelte hiervan is bestee op boorgate by ouetehuise, hospitale en skole.
Prins Albert met 7000 inwoners kry water uit 9 boorgate en leibeurte uit die Kweekvallerivier en is tans redelik geholpe. Laingsburg met sowat 5000 inwoners, kry water uit ‘n fontein in die Soutkloof en boorgate kry, maar die boorgate se water is baie sout en moet gesuiwer word voordat dit gebruik kan word.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'