DE RUST NUUS - Die bekende en gewilde Feesbasaar word wéér vanjaar saam met die Optimum Meiringspoort-wedlope aangebied.
Die flukse dames en manne van De Rust sal reeds Vrydag 11 Oktober vanaf 11:00 gereed wees met die lekkerste eet- en drinkgoed wat eie is aan 'n plattelandse basaar.
Daar sal ook 'n vegetariese- en vegantafel beskikbaar wees. Die gewilde vleistafel met Karoovleis sal Vrydag vanaf 16:00 oop wees en weer Saterdag vanaf 09:00. Vir die vleistafel is daar kaartfasiliteite, maar van die ander tafels word op 'n kontantbasis bedryf. Die steakete word Vrydagaand reeds vanaf 17:00 bedien.
Registrasie van die atlete word ook vanaf 11:00 tot 21:00 uur die aand behartig. Atlete kan hul registrasie Vrydag afhaal en sommer lekker kuier by die basaar en Castle-biertent. Hulle moet ook onthou om 'n afskrif van hulle identiteitsdokument saam te bring as hulle hul nommers gaan afhaal.
Organiseerders versoek die atlete om die webtuiste www.meiringspoort21.co.za vir alle inligting en reëls rondom die registrasieproses te besoek.
Alle atlete moet hulle eie registrasie kom afhaal. Geen atleet sal toegelaat word om 'n ander persoon se registrasie te ontvang nie. Daar word geen plaasvervangers toegelaat nie en atlete word ook nie toegelaat om aan die afstand waarvoor hulle ingeskryf het, te verander nie. Die laaste inskrywings kan Saterdag tussen 04:30 en 05:30 afgehaal word.
Die organiseerders versoek ook dat die atlete om nie met privaat vervoer deur die poort te gaan nie, maar die vragmotors moet gebruik wat beskikbaar is.
Atlete word daarop gewys dat die padwerke tussen De Rust en Oudtshoorn die verkeer met om en by 60 minute sal vertraag. Vir hierdie rede word deelnemers aangeraai om hul rit sorgvuldig te beplan om betyds vir die wedlope op te daag.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'