BEAUFORT-WES NUUS - ANC-LP, Edward Njadu van Beaufort-Wes se vrou, Lydia Njadu (55) is Sondagaand, 22 Januarie, omstreeks 22:00 in haar huis doodgeskiet.
Volgens Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het drie gewapende mans by die Njadu's se huis in Xabastraat, Kwa Mandlenkosi, gearriveer.
'n Kort gesprek het gevolg en die mans het willekeurig losgetrek en na haar begin skiet. Die skietery het gelei tot Lydia se noodlottige skietdood. Volgens Spies was Lydia en haar kinders alleen by die huis ten tyde van die voorval.
Verskeie persone, onderskeidelik 30 en 35 jaar oud is die dag na die voorval vir ondervraging deur die polisie ingeneem, maar is later weer vrygelaat.
Volgens Spies is die verdagtes steeds op vrye voet. 'n Span speurders, onder leiding van 'n senior polisiebeampte van Beaufort-Wes het reeds met die ondersoek begin.
Volgens Netwerk 24, sou die verdagtes Woensdag in die landdroshof in Beaufort-Wes verskyn het, maar is daar by navrae aan die Nasionale Vervolgingsgesag verneem dat die saak nie op die hofrol was nie.
Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei, word versoek om die ondersoekbeampte sers. Tembikele Matwa by 082 522 2709 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Karoo nuus'